Dit lyk al hoe onwaarskynliker dat Dale Steyn in die eerste wedstryd van die Wêreldbeker-toernooi gaan speel.

Dale Steyn se kanse om in die openingswedstryd van die Wêreldbeker-toernooi te speel, is in die weegskaal. Foto: Gallo Images

Dr. Mohammed Moosajee, die Proteas se spandokter en -bestuurder, het Saterdag by die O.R. Tambo-lughawe gesê Steyn het wel die groen lig gekry om saam met die span na Engeland te reis.

Nou is hy in ’n wedloop teen tyd gewikkel om gereed te wees vir die openingswedstryd op 30 Mei teen Engeland op die Oval in Londen.

“Dale maak goeie vordering. Twee van Suid-Afrika se voorste skouerspesialiste het hom ondersoek en hy het skanderings ondergaan, wat alles positiewe uitslae getoon het,” het Moosajee by die Proteas se afskeid-mediakonferensie gesê. Die span vertrek Sondag na Engeland.

“Dale se rehabilitasie en fiksheidsoefeninge gaan voort en die doelwit is nou om sy boullading stelselmatig te verhoog.

“Ons wil hom nie te vinnig terugbring nie; dit is ’n lang toernooi. Op die oomblik doen hy ‘skadu-boulwerk’ (sonder ’n bal).”

Goeie nuus vir die Proteas is dat Kagiso Rabada wel slaggereed sal wees vir die eerste wedstryd teen Engeland.

“Rabada (rugbesering), Lungi Ngidi (sybesering), JP Duminy (skouerbesering) en Tabraiz Shamsi (rugbesering) het almal volkome van hul beserings herstel,” sê Moosajee.

Ottis Gibson, die span se breier, sê daar sal nie met Steyn gewaag word nie.

“Die toernooi is ses weke lank. Ons doen alles wat ons kan om hom gereed te kry vir daardie wedstryd, maar as hy nie heeltemal reg is nie, sal ons hom terughou sodat hy gereed is om ’n rol in die res van die toernooi te speel,” sê Gibson.

“Hy is ’n belangrike deel van ons strategie en ons strategie is nie net vir die eerste week nie, maar vir die hele toernooi.”

As Steyn nie gereed is nie, sal dit die deur vir Dwaine Pretorius of Chris Morris oopmaak om ’n plek in die beginspan in te neem. Dit sal die Proteas met meer kolfdiepte laat.

Gibson het ook gesê die Proteas benader die toernooi soos wat hulle dit benader het toe hulle verlede week Tafelberg as ’n span uitgeklim het.

“Een van ons spanlede het gesê as hy sy oë op die spits hou, begin hy struikel,” sê Gibson.

“Só is dit in die toernooi ook. As jy te ver vooruit begin fokus, gaan jy struikel oor die uitdaging wat onmiddellik voor jou is,” sê hy.

Faf du Plessis, die Protea-kaptein, sê die openingswedstryd teen Engeland is baie belangrik, maar weliswaar nie die alfa en omega nie.

“As ons daardie wedstryd wen, gaan die media daaroor begin praat dat Suid-Afrika skielik een van die gunstelinge is,” sê Du Plessis.

“Dan gaan jy van ’n span wat relatief onder die radar beweeg, na een wat in die kollig is. Dit sal binne ’n dag verander.

“Ons wil graag die feëverhaal-begin hê, maar dit is ’n lang toernooi. As jy die eerste wedstryd verloor, belemmer dit nie noodwendig jou kanse om die halfeindronde te haal nie.”

Du Plessis sê die Proteas moet weet hulle hoef nie “superman te wees” om die toernooi te wen nie. “Ek probeer die ouens gerat kry om die basiese dinge reg te doen. In die laaste paar seisoene het ons baie wedstryde gewen, so ons moet eenvoudig net weer doen wat ons in daardie wedstryde gedoen het.”