Daar is talle maniere om sin te probeer maak daaruit dat die Proteas sewende gekom het in krieket se Wêreldbekertoernooi. Party is beter as ander. Onder die goeies tel spankeuse en beserings, twee kwessies wat nou verwant is.

Voor die toernooi is grootliks gereken dat die keurders hul taak skaflik verrig het, met die uitsondering van Reeza Hendricks se weglating. Soos die toernooi egter gevorder het, het ’n hele paar keuses dwaser begin lyk.

Hoekom is daar volhard met JP Duminy ná jare se onderprestasie? En waarom was daar kennelik onsekerheid rondom David Miller en Dwaine Pretorius? Pretorius is vermoedelik teen die gedugte Engelse kolwers ingespan om die boulwerk te versterk. Miller is toe vir die volgende wedstryd teen Bangladesj ingespan, waardeur die boulwerk verswak is teen ’n span wat meer lopies as Engeland gemoker het. Is Miller ingesluit ná kritiek in die media? Daar was gans te gereeld verwarring oor die middelorde, wat vererger is deur Miller se latere besering.

Waarom was die immergroen Imran Tahir uiteindelik Suid-Afrika se doeltreffendste bouler as daar soveel hoop gevestig was op die Proteas se veelgeroemde snelaanval? Dit was dié aanval wat onderskeidelik 311 en 330 teen Engeland en Bangladesj afgestaan het in die eerste twee wedstryde.

Chris Morris (10-0-72-0) en Lungi Ngidi (34 in 4 bb) was peperduur teen Bangladesj, die wedstryd wat Suid-Afrika moes wen, gesien sy moeilike vroeë program.

Beserings voor (Anrich Nortjé) en tydens (Dale Steyn en Ngidi) die toernooi het vrae laat ontstaan oor mediese protokolle en ingryping deur dokters en fiksheidsafrigters.

Voeg hierby verwarring rondom die regsaksie waarmee die SA Krieketspelersvereniging teen Krieket Suid-Afrika (KSA) begin het en ’n ongemaklike program wat Indië duidelik bevoordeel het, en jy het die resep vir ’n maand van teleurstelling.

Dis werd om te noem dat dit ’n vreugde is om krieket in ’n Engelse somer te speel. Die stadions en oefengeriewe is puik, die krieketpubliek ingelig en praat ’n taal wat jy verstaan. Die plek is propvol krieketgeskiedenis. Dit was eers laat in die toernooi, met niks om te verloor nie, dat die Proteas begin glimlag en hulself geniet het. Dit het alte duidelik geblyk uit verlede naweek se puik sege oor die Aussies.

Dit suggereer dat die Proteas nogmaals senuweeagtig was oor die toernooi, wat beteken dat keurderskopkrappers en ’n geweeklaag oor beserings minder belangrik is as dat die span teruggetrokke, versigtige krieket gespeel het wat ingestel was daarop om net nie te verloor nie.

'n Wêreldbeker-oorwinning sou van die gate kon toestop.

Dié benadering bied in toetskrieket ’n platform waarvandaan jy kan wen, maar in eendagkrieket is dit ’n resep vir rampspoed.

Ter illustrasie: Tot dusver het Engeland 74 van die toernooi se sesse gemoker – die meeste tot nog toe deur ’n Wêreldbekerspan – en meer as die 69 wat hulle altesame in die vorige vyf Wêreldbekertoernooie kon vermag. Vergelyk dit met die Proteas se beskroomdheid. In hul nege Wêreldbekerwedstryde het hulle 27 sesse geslaan, waarvan 10 deur Rassie van der Dussen, een van die toernooi se vonds­te, en net ene deur Miller, een van die mislukkings.

Dieselfde Engeland het in 2015 sleg gefaal. Destyds het hulle verkeerd gekies (Gary Ballance en boulers wat nie kon kolf nie, soos Jimmy Anderson en Steven Finn) en verdwyn. Dit was so vrot dat hulle ondanks hul 309/6 teen Sri Lanka in Wellington steeds met 9 paaltjies verloor het. Tuis het Eoin Morgan met Andrew Strauss, direkteur van krieket, ’n plan van aksie beraam. Dis wat KSA gedreig het om te doen ná dieselfde toernooi, waar die Proteas beter gevaar het as Engeland.

Engeland het sy planne uitgevoer, maar KSA het niks gedoen met die verslag wat ’n komitee onder Francois Pienaar opgestel het nie. Een hiervan was die aanstelling van ’n direkteur van krieket, ’n grootliks misverstaande rol. Corrie van Zyl, in bevel van krieketvordering, is die naaste hieraan, maar hy het reeds genoeg hooi op sy vurk dat hy nie só ’n pos ook sal kan behartig nie.

Terwyl KSA sake in teorie kan omkeer, is die toekoms bra donker. Neem alle emosie uit die storie en die grootste bedreiging vir SA krieket is dat KSA geld bloei. Dié toedrag van sake is ook nie gehelp deur die yslike afvaardiging van hooggeplaastes wat Engeland toe gevlieg het vir verlede maand se eerste wedstryd nie.

Hulle het versuim om hofstukke in te dien by die hooggeregshof in die geding met die Spelersvereniging en dié saak gaan hulle waarskynlik erg in die verleentheid stel. Die junior spanne lyk al hoe treuriger – net verlede week het die SA o.19’s ’n tuisreeks teen Pakistan met 0-7 verloor!

’n Wêreldbeker-oorwinning sou van die gate kon toestop. Vandag se wenspan sal $4 miljoen verdien, benewens die $40 000 vir elke uitklopoorwinning, wat eindelik op iets soos R60 miljoen neerkom.

En hoe lyk die Proteas se beursies? Wel, dis $220 000. Hulle het $40 000 per oorwinning verdien en $100 000 omdat hulle nié die uitkloprondes gemaak het nie. Dis minder as R3 miljoen. Beswaarlik die geldinspuiting waarvoor óf die vereniging óf die spelers gehoop het.