Die geopolitieke aartsvyande Indië en Pakistan kom Sondag op ’n krieketveld in Manchester te staan in ’n Wêreldbeker-wedstryd wat groot belangstelling ontlok.

Dié twee buurlande, albei gewapen met kernmissiele, het al drie keer sedert hul onafhanklikheidswording teen mekaar oorlog gemaak. Vroeër vanjaar was dit amper weer die geval, toe 40 Indiese polisiebeamptes in die betwiste Kasjmir-gebied (waar die grens tussen die twee lande is) in ’n selfmoordbomaanval dood is.

Verskeie oudspelers en ondersteuners het Indië aangemoedig om die wedstryd teen Pakistan te boikot uit protes teen dié bomaanval.

Teen dié agtergrond is dit g’n wonder dat die 19 000 beskikbare kaartjies vir die wedstryd op Old Trafford blitsig opgeraap is nie. Trouens, dít was die eerste wedstryd in vanjaar se toernooi wat uitverkoop het.

Indië se kaptein, Virat Kohli, en sy Pakistanse eweknie, Sarfaraz Ahmed, het die laaste paar dae die gemoedere probeer kalmeer en albei het gesê hul spelers fokus net op die wedstryd.

“Sodra ons op die veld stap, is dit beroepskrieket. Dis vir ons as ’n span net nog ’n wedstryd wat ons moet wen,” het ’n diplomatiese Kohli gesê.

Tuis word daar egter ’n groot bohaai oor dié wedstryd gemaak en in albei lande is advertensies vertoon waarin die opponerende land bespotlik gemaak word.

Op ’n Pakistanse TV-kanaal is ’n advertensie vertoon wat die spot dryf met ’n Indiese vegvlieënier wat vroeër vanjaar gevangene geneem is. In die advertensie dra hy 'n Indiese krieket-uitrusting.

In Indië was daar weer ’n advertensie wat verwys na Indië se onoorwonne WB-rekord teen Pakistan en dié land dan vra: “Wie’s jou pappa?”

Dié advertensies het die Indiese tennisster Sania Mirza, wat met die Pakistanse speler Shoaib Malik getroud is, na Twitter gedryf: “Genade, dis net krieket en as jy dink dis enigiets meer as dit, moet jy beter beheer oor jou lewe kry,” het sy getwiet.

Vir miljoene Indiërs en Pakistani’s is dit egter veel meer as krieket en sal die uitslag van die wedstryd net so belangrik soos die verowering van die Wêreldbeker wees.

Al wat ’n demper op dié kragmeting kan plaas, is Engeland se berugte eendeweer, wat vanjaar al vier wedstryde in die wiele gery het. Tans is daar ’n 60%-moontlikheid dat ’n paar buie Sondagmiddag kan uitsak.

* TV: Sondag 11:30 (SS 2, GDN). 

– Reuters