Die enorme fokus wat die Pro­teas op hul mislukte “Plan A” geplaas het, is die grootste rede vir hul benarde posisie by die Wêreldbeker (WB)-toernooi, wat tans in Engeland aan die gang is.

Dié plan was om spanne met ’n boulaanval van Kagiso Rabada, Dale Steyn, Lungi Ngidi, Imran Tahir en Andile Phehlukwayo weg te blaas. Groot tellings maak nie saak as jy die beste boulaanval by die toernooi het nie, het hulle gesê.

Die ironie is dat dié plan waarskynlik nooit die WB vir Suid-Afrika sou wen nie. Selfs al moes Steyn nie met ’n skouerbesering huis toe gaan nie. Hul denkproses was gebrekkig – lopies máák saak. En die Protea-kolwers sukkel eenvoudig te veel om tellings op die bord te kry.

Teen Engeland het Ngidi, Rabada, Tahir en Phehlukwayo gespeel. Die enigste lid van die beplande gevreesde vyftal wat afwesig was, was Steyn.

Dwaine Pretorius, wat in sy afwesigheid gespeel het, het sewe boulbeurte afgestuur en met syfers van 0/42 geëindig, wat beteken hy het slegs 6 lopies per beurt afgestaan.

Buiten Phehlukwayo (5.50), het die res van die voorslagboulers almal meer lopies per boulbeurt as Pretorius afgestaan.

Toegegee – Ngidi, Tahir en Rabada het al drie toegeslaan en die Proteas het goed geboul in die doodsnikbeurte.

Toegegee – Ngidi, Tahir en Rabada het al drie toegeslaan en die Proteas het goed geboul in die doodsnikbeurte.

Tog het Engeland by 311/8 uitgekom in hul 50 beurte. Sou Steyn dié telling werklik laat krimp het?

Miskien as hy paaltjies vroeg in Engeland se beurt platgetrek het. Dít was immers die Proteas se plan. Om vroeë paaltjies plat te trek. Dit het nie gebeur teen Engeland of Bangladesj nie en die gevolg was dat Suid-Afrika twee keer meer as 300 moes jaag.

In dié jaagtogte is die probleem ontbloot – die Protea-kolflys is eenvoudig nie opgewasse nie.

Teen Engeland is hulle vir 207 uitgeknikker. Sou dit dus werklik ’n verskil gemaak het as Steyn gespeel het?

Teen Bangladesj het die boulers weer gesukkel om in die eerste tien beurte toe te slaan en dié keer kon hulle ook nie die bloeding in die doodsnikbeurte stop nie. Hulle moes 330 jaag en kon net 309 haal.

AB de Villiers.
AB de Villiers.

Dit is hul onvermoë om lopies aan te teken wat die Proteas se doodsteek is. Dít sou hul doodsteek wees selfs al was Steyn fiks, want dan het die Proteas met ses voorslagkolwers, waarvan JP Duminy, David Miller en Hashim Amla liederlik uit vorm is, en Phehlukwayo op nr. 7 gespeel. Dit is nie ’n kolflys wat vir jou wedstryde teen goeie spanne kan wen nie – ongeag hoe sterk jou boulaanval is.

’n Mens kan wel simpatiseer met die plan met die boulers. Die Proteas het eenvoudig gekyk na wie hul beste spelers is, wie die spelers is wat vir hulle ’n wedstryd kan wen. Onder kolwers is die wedstrydwenners ná AB de Villiers se uittrede maar yl gesaai.

Die Proteas wou dus liewer aanvallend wees en paaltjievrate inspan, as om die kolflys met veelsydige spelers te laat wat eintlik maar “half-spelers” is, liewer as brekers met die bal én kolf.

Dit was dus goed om te sien dat Du Plessis besluit het om nié sy span met drie veelsydige spelers te laai vir die wedstryd teen Indië nie. Hy het gevoel die draaier Tabraiz Shamsi is ’n groter bedreiging met die bal as Pretorius.

Dit het uiteraard nie uitgewerk soos wat hulle beplan het nie, maar dit was weer omdat die kolwers nie genoeg lopies aangeteken het nie.

Plan A is weg, het Du Plessis erken. Maar Plan A het in elk geval tekort geskiet.

Nou moet die Proteas Plan B in werking stel. Dít behoort te wees om vir groot tellings te mik. Die boulaanval is steeds sterk, veral as Chris Morris op sy uitstekende spel teen Indië kan voortbou.

Maar die boulers móét iets kry om na te boul. Die onus rus nou op die kolwers. Dit is hulle wat Suid-Afrika se veldtog moet red.

Tinus van Staden dek die WB-toernooi vir Netwerk24.