Beuran Hendricks het op sy rusbank gelê en televisie kyk toe die oproep kom dat hy dringend na Engeland moet kom as ’n plaasvervanger vir Dale Steyn in die Proteas se Wêreldbeker-groep.

“Dit was ’n bietjie van ’n gejaag om binne 12 uur hier uit te kom,” het die linkshandige snelbouler Hendricks Woensdagaand by die Rose Bowl in Southampton gesê.

Die span het Woensdag sonder Hendricks by die veld opgedaag vir hul Wêreldbeker-kragmeting met Indië.

’n Ruk later het Hendricks by die veld aangekom en is onmiddellik met die waterdraer-dienste toevertrou. Hy is wel beskikbaar vir Maandag se wedstryd teen die Wes-Indiese Eilande, ook in Southampton.

Hy sê toe hy die oproep gekry het, het hy nog nie geweet dit is die beseerde Steyn wat hy in die groep vervang nie.

“Ek het in die media gesien dit is Dale en dit is uiteraard ’n reuseverlies vir die span,” sê hy.

“Ek sal nie sê ek kan Dale se skoene volstaan nie, want dit is Dale. Maar ek kom ook na hierdie kompetisie met my eie stel vaardighede en my eie ambisie.”

Die 28-jarige Hendricks se groot wapen is sy aksie – as linkshandige snelbouler bied hy die Suid-Afrikaanse aanval ’n bietjie variasie. Veral aan die begin van sy loopbaan, was sy swaaiboulwerk sy grootste bondgenoot.

“Vir my gaan dit daaroor om seker te maak ek maak ’n bydrae op die veld. Elke goeie span in die wêreld het ’n groot verskeidenheid van vaardighede, so ek kan iets anders bring.”

Hy sou Woensdagaand met Steyn gepraat het, voordat laasgenoemde terugkeer na Suid-Afrika.

“Ek wil graag ’n bietjie van hom af voed.”

Hendricks, wat nog net in twee eendagwedstryde gespeel het, het ook nie halfgebak in Engeland geland nie.

“Ek was besig om voor te berei sedert ek omtrent drie weke gelede die oproep gekry het om op bystand te wees,” sê hy.

“Ek het genoeg voorbereiding gedoen om hierheen te kom en gereed te wees.”

Die omgewing wat Hendricks betree, is egter ’n somber een. Die nederlaag met ses paaltjies teen Indië was Suid-Afrika se derde opeenvolgende nederlaag.

“Dinge het nie goed verloop nie en daar sal nou ’n nuwe benadering wees met dié dat ons ses wedstryde moet wen.”

Vir Hendricks is die omstandighede nie ideaal nie, maar dit is steeds ’n droom wat waar word om in ’n Wêreldbeker te speel, sê hy.

“Ek is baie opgewonde. Ek hoop ek kan die span se geluk laat draai.”