Bisar, mal, verregaande . . . Wat ’n eindstryd!

Die druk het Engeland so byna verwurg, maar Ben Stokes – die briljante, vreeslose Ben Stokes – het hardnekkig geweier dat Nieu-Seeland die Engelse van hul goue dag beroof.

Stokes (84*, 98 b) het sy span in die laaste boulbeurt gehelp om die Wêreldbeker-eindstryd gelykop te laat eindig en sodoende ’n superboulbeurt af te dwing.

In die superboulbeurt het Stokes (8*) en Jos Buttler (7*) hul span tot 15 lopies gevoer.

Nieu-Seeland, met Jimmy Neesham (13*) en Martin Guptill (1) voor die penne, het ook 15 in sy superboulbeurt aanteken. Omdat Engeland meer grenshoue in die eindstryd geslaan het, is hy die kampioen.

Voor ’n skare toeskouers wie se emosies soveel wipplank gery het soos die weer Sondag by Lord’s, het Engeland dus sy eendag-revolusie voltooi.

Vir Nieu-Seeland was dit só naby.

Maar Engeland is die nuwe Wêreldkampioen nadat hy die beste, mees opwindende Wêreldbeker (WB)-eindstryd van alle tye gewen het.

Die Lasarus-storie van ’n verslane Engelse span wat ná 2015 uit die as herrys het en nou op die troon van wêreldkrieket sit, het sy klimaks bereik. Maar dit was nie so maklik soos wat elke Engelse burger en joernalis jou voor die tyd wou laat glo het dit gaan wees nie.

LONDON, ENGLAND - JULY 14: Jonny Bairstow of Engla
Jonny Bairstow loop kop onderstebo van die veld nadat hy sy paaltjie verloor het. Foto: Getty Images

Kane Williamson se Nieu-Seelandse kolflys het tot by ’n beskeie telling van 241/8 geraap en skraap op ’n moeilike kolfblad nadat hy die loot gewen het en besluit het om eerste te kolf op ’n groen kolfblad onder donker, swaar wolke.

Liam Plunkett (3/42 in tien boulbeurte) en Chris Woakes (3/37 in nege bbe.) het skitterend geboul. ’n Vennootskap van 74 om die tweede paaltjie tussen Henry Nicholls (55, 77 b) en Williamson (30, 53 b), en ’n beurt van 47 (56 b) deur Tom Latham het die Kiwi’s tot ’n mededingende telling gevoer.

’n Mens het gedink 241 sal nooit genoeg wees teen die kragtige, veelgeroemde Engelse kolflys nie. Engeland se vierjaarrevolusie was so te sê voltooi.

Maar toe gooi die briljante Kiwi-boulers die hele appelkar om.

Die Engelse topvier is almal binne 24 boulbeurte uit. Engeland het op 86/4 gesteier danksy paaltjies deur Matt Henry (1/40 in tien), Colin de Grandhomme (1/25 in tien bbe.), Lockie Ferguson (3/50 in tien bbe.) en Jimmy Neesham (3/42 in sewe bbe.).

Lord’s het stil geword. Maar toe begin Jos Buttler (59, 60 b) en Stokes bou. En bou. En bou.

Asof hulle geweier het dat die Engelse droom verydel word.

Elke lopie is deur die skare toegejuig soos die twee kolwers hul span uit ’n groot penarie gekolf het met hul beste vennootskap ooit in eendagkrieket (110).

Toe Buttler sy paaltjie in die 45ste boulbeurt aan Ferguson afstaan, was Nieu-Seeland weer in die saal.

Die Engelse moes 39 lopies van die laaste 24 balle vir ’n sege aanteken. Dit het 34 lopies van 18 balle geword . . . toe 24 van 12 en toe 15 van die laaste boulbeurt.

In die laaste beurt het Stokes ’n ses geslaan en in ’n bisarre voorval nóg ’n ses gekry. Martin Guptill, wat op die grens veldwerk gedoen het, het die bal teruggegooi nadat Stokes twee lopies gehardloop het.

LONDON, ENGLAND - JULY 14: Ben Stokes of England s
Ben Stokes teen die Kiwi's in aksie. Foto: Getty Images

Die bal het Stokes egter getref terwyl hy ingeduik het na sy kolfkampie, en momentum het die bal vir ’n vier gedra.

Die Engelse het toe drie lopies van twee balle benodig. Hulle het ’n enkellopie van elk van die laaste twee balle gehardloop en op presies 241 geëindig.

In die superbeurt het Nieu-Seeland twee lopies van die laaste bal benodig, maar Guptill het die bal na Roy op die grens geslaan en is deur ’n briljante ingooi uitgehardloop.

Engeland het gejuig en feesgevier, mekaar omhels.

Die toeskouers is trakteer tot ’n skitterende eindstryd.

Onder die Kiwi’s in die skare was daar ’n man met ’n plakkaat: “Maak geskiedenis, Kiwi’s.”

LONDON, ENGLAND - JULY 14: Jos Buttler and Ben Sto
'n Briljante vennootskap tussen Jos Buttler en Ben Stokes het Engeland gehelp om die WB-eindstryd te wen. Foto: Getty Images

Maar soos die lopies laat in die wedstryd uit Stokes se kolf gevloei het, so het die krete van vreugde oor die Engelse ondersteuners se lippe gevloei.

“Come on, England! Come on, England!” het deur die historiese paviljoene weergalm soos dit skemer in Londen begin word het.

“Kom nou, Liam, ons glo in jou!” het een ondersteuner met ’n rasperstem geskree toe Plunkett in die doodsnikbeurte vir Boult moes trotseer.

Toe weer: “Stokesy, Stokesy, Stokesy!” toe hy ’n ses van die voorlaaste boulbeurt geslaan het – ’n hou waarvan Boult hom net so maklik kon uitvang en die wedstryd net daar kon beklink. Maar krieket is ’n spel van millimeters.

Die Kiwi’s was waardige finaliste. Maar dis die Engelse wat hul vingerafdrukke Sondag by die tuiste van krieket in die geskiedenisboeke verewig het.

Telkaart