Rohit Sharma se derde Wêreldbeker-honderdtal was nie Sondag teen Engeland genoeg vir Indië om sy onoorwonne status te behou nie.

Engeland het in Birmingham, danksy ’n sege van 31 lopies, plekke met Pakistan op die puntelys geruil en lê nou weer in die vierde plek.

Die gasheernasie sal weer ’n slag bietjie rustiger asemhaal, maar is nog nie verseker van ’n plek in die halfeindronde nie en sal Nieu-Seeland straks in sy laaste wedstryd moet klop om dít te vermag.

Die Engelse het met 337/7 vir ’n vyfde keer meer as 300 in dié toernooi aangeteken en Indië moes ’n toernooi-rekord (329/7) oortref om te wen.

Indië kon net by 306/6 uitkom.

Engeland se toporde, met die Speler van die Wedstryd Jonny Bairstow aan die spits, het ’n stewige grondslag vir die wenspan daargestel. Bairstow (111, 109 b, 10x4, 6x6) en Jason Roy (66, 57 b) het 160 in net 22.1 boulbeurte geklits.

Jonny Bairstow vier sy honderdtal teen Indië Sondag op Edgbaston. Foto: Getty Images

Die rooikop is ook goed bygestaan Joe Root (44), waarna die staatmaker Ben Stokes met 79 van 54 balle sy vierde vyftigtal van die toernooi gemoker het.

Indië se Mohammed Shami het met 5/69 sy eerste vyftal aan paaltjies in sy 66ste eendagwedstryd behaal. Sy aanvangsmaat Jasprit Bumrah (1/44) het net 15 sy laaste drie beurte afgestaan teen die einde, maar die skade is toe reeds aangerig.

Indië se Sharma (102, 109 b, 15x4) en Virat Kohli (66) het daarna 138 om die tweede paaltjie aangeteken.

Met hul vertrek het Rishabh Pant (32), Hardik Pandya (45) moedig probeer, terwyl die verlangde lopietempo vir die Engelse bly knipoog het.

Liam Plunkett (3/55) het uitgeblink met die bal vir Engeland met die paaltjies van Kohli, Pant en Pandya.

Engeland (10 punte) se laaste wedstryd Woensdag teen Nieu-Seeland (11 punte) sal nou sy lot bepaal.

Die het Kiwi’s het Saterdag op Lord’s teen die Aussies ’n tweede agtereenvolgende nederlaag gely.

Rohit Sharma was Indië se beste kolwer teen Engeland, maar sy honderdtal was uiteindelik vergeefs. Foto: Getty Images

Pakistan (9 punte) het Saterdag vir Afganistan in ’n rillerstryd op Headingley – met net twee balle oor – met drie paaltjies geklop om sy buitekans lewendig te hou.

Pakistan kom Vrydag in sy laaste wedstryd teen Bangladesj te staan.

* Puntestand (wedstryde gespeel in hakies): 1. Australië (8) 14; 2. Indië (7) 11; 3. Nieu-Seeland (8) 11; 4. Engeland (8) 10; 5. Pakistan (8) 9; 6. Bangladesj (7) 7; 7. Sri Lanka (7) 6; 8. Suid-Afrika (8) 5; 9. Windies (7) 3; 10. Afganistan (8) 0. – Sportredaksie, espncricinfo.com