Die Australiese krieketspeler Steve Smith is Saterdag in Southampton as ’n skelm uitgejou toe hy uitgestap het om in ’n Wêreldbeker-opwarmwedstryd teen Engeland te kolf.

Dit het hom egter nie gekeer om 116 lopies van 102 balle te moker en die Aussies te help om met 12 lopies te wen nie.

Smith, wat verlede jaar van sy kapteinskap gestroop en ’n skorsing van 12 maande uitgedien het vir sy aandeel in ’n balpeuter-skandaal op Nuweland, is baie goed op dreef.

Hy het vroeër vandeesmaand tellings van 89* en 91 teen Nieu-Seeland in nog twee opwarmwedstryde in Brisbane aangeteken.

“Ek het ’n paar goed gehoor toe ek uitstap om te kolf, maar dit het my nie gepla nie,” sê Smith.

“Ek reken almal is geregtig op ’n mening, maar dit was vir my net soos water van ’n eend se rug af.

“Ek het net probeer om my kop af te hou, reguit vorentoe te beweeg en my werk te doen.”

Australië speel Maandag in sy laaste opwarmwedstryd in Southampton teen Sri Lanka.

Die Aussies se eerste wedstryd in die Wêreldbekertoernooi is op 1 Junie teen Afganistan in Bristol. – Reuters