Engelse ondersteuners het duidelik nog nie hul les geleer nie: Dis moeilikheid soek om ’n Australiese krieketspeler uit te koggel.

Die voormalige Aussie-bybreker Shane Warne, wat strykdeur sy loopbaan deur Engelse ondersteuners gespot is dat hy te veel pasteie eet, het gewoonlik laaste gelag.

Net so het ’n spottende opmerking aan die ontbyttafel die Aussie-snelbouler Mitchell Starc aangevuur om Dinsdag verwoesting teen Engeland te saai in dié spanne se Wêreldbeker-wedstryd op Lord’s in Londen.

Starc het met ’n boulontleding van 4/43 sy span gehelp om die gasheernasie met 64 lopies te verslaan.

Shane Warne is gereeld deur Engelse ondersteuners daaraan herinner dat hy nie die mees vaartbelynde bouler is nie, maar het gewoonlik laaste gelag. Foto: Getty Images

Alyssa Healy, sy vrou, het ná die wedstryd op Twitter onthul dat ’n Engelse ondersteuner bedank moet word vir Starc se goeie boulwerk.

Toe Starc agterna daaroor uitgevra is deur verslaggewers, het hy bevestig dat ’n Engelse ondersteuner hom die oggend geterg het.

“Hy het baie te sê gehad oor die verbande en kleeflint op my lyf (om beserings te voorkom), dat ek te veel geëet het en hoe dit my boulwerk negatief sou raak.”

Volgens Starc het hy drie geposjeerde eiers vir ontbyt gehad.

“Ek was net honger gewees,” het hy hieroor gesê.

“Ek was buitendien nog half deur die slaap, want dit was twee ure voordat ons eers met ons opwarming vir die wedstryd begin het,” het hy oor die “onderonsie” gesê.

Engeland se berugte Barmy Army-ondersteuners het deur die jare gereeld vir Warne oor sy gewig uitgekoggel en gedreunsing “Wie het al die pasteie geëet?” wanneer dié draaier geboul het.

Warne het dié gespottery waarskynlik ook as motivering gebruik, want 195 van sy 708 toetsslagoffers was Engelse kolwers. Sy beste boulvertoning in ’n beurt, 8/71, was ook in ’n toets teen Engeland in 1994 in Brisbane.

– Reuters