Faf du Plessis het sy span skitterend op koers geplaas om Australië se Wêreldbeker (WB)-partytjie te bederf.

Met die Proteas se eerste honderdtal van die WB-toernooi, het Du Plessis (100, 94 balle) sy span tot ’n goeie totaal van 325/6 in hul laaste wedstryd van die toernooi teen die Aussies in Manchester gevoer. ­Hy en Rassie van der Dussen (95, 96 b; 4x6) het die Aussie-boulers behoorlik laat sweet met ’n vennootskap van 151.

As Australië nie dié wedstryd wen nie, behoort Indië hom verby te steek op die puntelys. Dit sal beteken die Aussies moet Birmingham toe reis vir ’n halfeindstryd teen Engeland – ’n veel moeiliker taak as om in Manchester te bly vir die halfeindstryd teen Nieu-Seeland.

Dit is ’n skrale troos, maar siende dat Suid-Afrika se eie WB-veldtog weens vrot vroeë vertonings ’n voortydige dood gesterf het, kan hy net sowel ’n speek in die ou vyand se wiel steek.

Dit was boonop Suid-Afrika se beste kolfvertoning van die toernooi nadat hy die loot gewen en besluit het om te kolf op ’n lieflike kolfblad.

’n Venster op die toekoms is oopgemaak nadat ’n frats-kniebesering van Hashim Amla tydens die sokkerwedstryd by die Protea-oefening Vrydag meegebring het dat Aiden Markram die beurt saam met Quinton de Kock begin.

Dié duo het die Proteas gehelp om 73/0 in die eerste kragspel te bereik.

Nathan Lyon (2/53 in tien boulbeurte) het daarna weer Markram (34, 37 b) se kwesbaarheid teen draaiers ontbloot deur hom te laat stonk.

Du Plessis en De Kock (52, 51 b) het die telbord laat aanhou oortik, voordat De Kock ook deur Lyon uitgekry is.

Daarna het Du Plessis en Van der Dussen beheer geneem.

Du Plessis het uitstekend gekolf vir sy 100-tal. Die hoogtepunt van sy beurt was waarskynlik ’n reguit ses wat hy van Pat Cummins se boulwerk geslaan het.

Rassie van der Dussen het skitterend gespeel. Foto: Getty Images

Van der Dussen was ewe indrukwekkend, indien nie selfs meer nie. Hy het stadig begin en opsigtelik gesukkel. Met sy telling op 4 van 22 (!) balle, het die Aussie-paaltjiewagter, Alex Carey, ’n stonkkans verbrou om hom uit te kry. Daarna het Van der Dussen sy ritme begin vind.

In die laaste boulbeurt het hy desperaat probeer om sy eerste honderdtal te bereik. Die tweede laaste bal, met sy telling op 95*, het hy in die lug opgeslaan en ’n enkellopie geweier.

Die laaste bal was amper ’n ses, maar hy is op die middebaan-grens uitgevang.

Amla se besering is straks ’n bedekte seën, want die Proteas speel nou met twee draaiers op die mees draaiersvriendelike blad in Engeland.

Tabraiz Shamsi en Imran Tahir kan dus in tandem amok saai. Die Aussies se voorkeurdraaier, Lyon, was hul beste bouler.

Die deeltydse wegbreker, Glenn Maxwell (0/57 in tien), het self tien beurte afgestuur, wat wys dat die blad draaiers goedgesind is.

Die Suid-Afrikaners het die paviljoene volgesit. Hulle het geboe toe Steve Smith se naam oor die luidspreker weergalm het voordat hy sy een boulbeurt afgestuur het.

Hulle het gejuig toe Du Plessis uiteindelik sy span se honderdtal-droogte verbreek het. Hulle het kopgekrap oor waarom nou eers.

Maar die meeste van alles was hulle sielsgelukkig om te sien hoe die Aussies ’n bietjie rondgejaag word.