Die nuus dat AB de Villiers homself ter elfder uur beskikbaar gestel het om die Proteas by die Wêreldbeker-toernooi te verteenwoordig, het geen invloed op die span gehad nie.

Dit het ook nie die vriendskap tussen De Villiers en die Protea-kaptein, Faf du Plessis, beïnvloed nie, het laasgenoemde Maandag gesê nadat hul wedstryd teen die Wes-Indiese Eilande in Southampton uitgereën het.

Du Plessis het die media Maandag die eerste keer te woord gestaan nadat die nuus Donderdag gebreek het dat De Villiers ’n dag voor die aankondiging van die WB-groep, aangebied het om homself beskikbaar te stel vir die toernooi.

“Die nuus het nie regtig ’n invloed op die span gehad nie,” sê Du Plessis.

Daar was net ’n gesprek om duidelikheid te gee en sodat almal weet wat aangaan en daarna het almal aanbeweeg.
Faf du Plessis

“Daar was net ’n gesprek om duidelikheid te gee en sodat almal weet wat aangaan en daarna het almal aanbeweeg.”

Die spelers het reeds van die uitgetrede De Villiers se U-draai-aanbod geweet, aangesien Ottis Gibson, die breier, Saterdag aan die media gesê het die groep is in Mei reeds daarvan ingelig by hul oefenkamp in Kaapstad.

Du Plessis het ook meer lig gewerp op die verloop van gebeure.

Gibson het Saterdag gesê De Villiers het hom (Gibson) “die oggend op, of aand voor” die aankondiging van die WB-groep op 18 Mei gebel. Voor dit, het Gibson gesê, het De Villiers vir Du Plessis genader en die Protea-kaptein het toe die nuus met die breier gedeel.

“AB het met Faf gepraat tydens die Indiese Premierliga (IPL) en toe het Faf my gebel,” het Gibson Saterdag gesê.

“Een of ander tyd ná dit, (op die oggend op, of aand voor die spanaankondiging) het AB my gebel.”

Gibson kon Saterdag nie sê presies wanneer die gesprek tussen De Villiers en Du Plessis plaasgevind het nie. “Dit was tydens die IPL,” was al wat hy kon onthou.

AB de Villiers / Foto: Getty Images

Du Plessis sê hy en De Villiers het nie van aangesig tot aangesig gepraat by die IPL nie.

Hul gesprek het óók binne 24 uur van die spanaankondiging plaasgevind, het Du Plessis onthul.

“Hy het my gebel die aand voordat die span aangekondig is en gesê hoe hy voel. Ek het gesê my gevoel is dis te laat, maar ek sal die volgende dag hoor wat die afrigters en die keurders daaroor te sê het,” sê Du Plessis.

“Teen daardie tyd was die span reeds gekies. Ek het toe die volgende oggend met die afrigter en die keurders gepraat en ons het almal saamgestem dat dit heeltemal te laat is om die span op nommer 99.9 te verander.”

Die voorval het ook nie hul jarelange vriendskap beïnvloed, soos die naweek in ’n berig in die Sunday Times beweer is nie.

“Ek en AB is steeds vriende. Hierdie voorval het dit nie verander nie. Dit is ’n klein ding vir ’n vriendskap wat oor baie jare strek.”

Ek en AB is steeds vriende. Hierdie voorval het dit nie verander nie. Dit is ’n klein ding vir ’n vriendskap wat oor baie jare strek.
Faf du Plessis

Dale Benkenstein, Suid-Afrika se kolf-afrigter, sê die De Villiers-kwessie het nie ’n invloed op die kolwers se spel nie.

“Die kolwers dink nie aan AB nie, hulle het genoeg ander dinge om aan te dink,” sê Benkenstein. “Hulle is hier en dit is hulle storie, hulle moet dit regstel. Die AB-kwessie is irrelevant, hy is nie hier nie en hy gaan nie hier wees nie.”