Engeland het sy titel as gunsteling deur bloedsweet verdien, maar dié etiket is hoegenaamd nie ’n magiese magneet wat die Wêreldbeker-trofee in die tuisspan se hande gaan besorg nie.

Hulle moet steeds daarvoor veg.

En wanneer Suid-Afrika Donderdag op die veld stap as die Engelse se teenstanders in die openingswedstryd op die Oval in Londen, is hulle van plan om groot teenstand te bied.

“Of jy nou die gunsteling is of nie, jy moet steeds jou beste krieket speel om die Wêreldbeker (WB)-toernooi te wen,” het Faf du Plessis, die Protea-kaptein, Woensdag by die Oval gesê.

“Engeland is ’n ongelooflike span en hulle het dit gewys oor die laaste 24 maande. Hulle het bestendig goeie krieket gespeel en daarom het hulle die gunsteling-etiket.

“Engeland se groot sterkpunt is die feit dat hulle baie gebalanseerd is ’n baie lang kolflys het. Geen ander span in die wêreld het so ’n lang kolflys, met boulers wat kan inkom en die bal ver kan slaan nie,” sê Du Plessis.

Is dit vir hom anders om die kaptein by ’n WB te wees?

Ek geniet my krieket die meeste as ek kaptein is. Veral die kaptein van hierdie span. - FAF DU PLESSIS

“Nie regtig nie,” sê hy.

“Ek geniet my krieket die meeste as ek kaptein is. Veral die kaptein van hierdie span. As ek die heeltyd takties dink, plaas dit my in ’n goeie plek op die veld.”

Dit is ook nie net die kapteinskap wat Du Plessis opgewonde maak oor die WB nie.

“As ’n kolwer sien ek daarna uit om te begin speel op hierdie kolfblaaie, want dit is goeie blaaie om op te kolf.”

Hoewel die blaaie goed is, kan jy nie net uitstap en na willekeur begin slaan nie, maan Du Plessis.

“Maar jy moet eers kyk hoe die toestande lyk.

“Soms wil jy mik vir 500, maar dan swaai die bal rond en dan is jy in die moeilikheid,” sê die Protea-kaptein.

LONDON, ENGLAND - MAY 27: Captain Eoin Morgan of E
Eoin Morgan. Foto: Getty Images

Sy Engelse eweknie, Eoin Morgan, het ’n lansie vir Du Plessis gebreek.

“Faf is ’n baie groot speler vir hulle,” sê Morgan.

Volgens dié gebore Ier, het hy nie in sy wildste drome verwag hy sal Engeland by ’n Wêreldbeker op tuisbodem aanvoer nie.

“Ek het daarvan gedroom om ’n toetshonderdtal te slaan en om die wenlopies by ’n WB aan te teken, maar nooit dat ek die Engelse kaptein by ’n WB in Engeland sou wees nie,” het hy gesê.

Die gunsteling-etiket is daar vir ’n rede. Dit is daar vanweë alles wat ons oor die laaste paar jaar vermag het. - EOIN MORGAN

Morgan het weer benadruk die gunsteling-etiket is iets wat hulle omarm.

“Ons het as ’n groep daaroor gepraat,” sê hy.

“Die gunsteling-etiket is daar vir ’n rede. Dit is daar vanweë alles wat ons oor die laaste paar jaar vermag het.

“In die laaste paar Wêreldbeker-toernooie waarin ek gespeel het, was daar nie baie verwagtinge nie en sake het nie so goed verloop nie.

“Ek verkies hierdie.”

Morgan sê die Proteas is ’n gebalanseerde span en dat hul boulaanval selfs sonder die beseerde Dale Steyn gevaarlik is. Die Engelse kaptein verwag ook dat die kolfblad Donderdag kolfwerk gaan bevorder.

Dít sal sy span vol mokermanne soos ’n handskoen pas.