“Dit raak nou vernederend,” het Faf du Plessis Sondag by Lord’s met klam oë erken.

Die huil was opsigtelik naby ná nóg ’n nederlaag by vanjaar se Wêreldbeker-toernooi in Engeland.

Nadat Pakistan die Proteas met 49 lopies by die tuiste van krieket afgeransel het, is dié veldtog besig om in die grootste laagtepunt van sy internasionale loopbaan te ontaard, sê die kaptein Du Plessis.

“Ek is ’n baie trotse speler en kaptein en dit beteken baie vir my om my land te verteenwoordig,” sê hy.

“Dit is bitter taai op die oomblik. Ons probeer, maar ons kom net nie daar uit nie. Dit raak natuurlik ook stuk-stuk aan my, want ek is ook maar net ’n mens. Vir nou moet ek wel sterk bly vir die span.”

Du Plessis sê ook hy besef dié veldtog, waarin die Proteas reeds vyf wedstryde verloor het, kan ’n klad op sy nalatenskap as kaptein laat.

“Die meeste genot wat ek uit die spel put, is wanneer ek die span lei. Ek is mal daaroor om dié span aan te voer. Die feit dat ons ver benede ons potensiaal vertoon, is iets wat ek nie aanvaar nie.

Dit is bitter taai op die oomblik. Ons probeer, maar ons kom net nie daar uit nie.

“Ek wil soveel dinge as wat ek kan beheer, maar ek weet ek kan nie alles beheer nie. As ek my kop in die aand neerlê, moet ek net weet ek het alles in my vermoë gedoen om die span reg voor te berei.”

As hy een ding kon verander, sou hy toesien dat sleutelspelers soos Kagiso Rabada meer rus voor die toernooi gekry het.

“Maar dit was buite my hande.”

Wat Du Plessis die meeste frustreer, is dat die Proteas dieselfde foute oor en oor begaan. Sondag het daar boonop nóg probleme opgeduik.

“Vanaand was ons boulwerk, wat goed was tot dusver in die toernooi, ook swak. Almal behalwe Immy (Tahir) het waarskynlik ’n vyf-uit-tien-vertoning met die bal gelewer,” sê hy.

“Met die kolf was dit dieselfde storie – die kolwers kry hulself in, maar verloor dan hul paaltjie. Dit voel of ek dieselfde goed oor en oor sê.”

Du Plessis sê dit gaan oor ’n tekort aan selfvertroue.

“Ons speel met lae selfvertroue, wat daartoe lei dat ons meer foute as gewoonlik begaan.

“Soveel as wat ek en die afrigter kan sê, die verantwoordelikheid rus steeds by die speler om gereed by die veld op te daag.”

Du Plessis sê buiten Tahir, wat Sondag met 2/41 in tien beurte geëindig het, het geen speler tot dusver bestendig goed gespeel nie.

“As jy kyk na die spanne wat goed vaar – hulle het almal ’n paar belangrike spelers wat op dieselfde tyd met goeie peil spog en met groot vertonings vorendag kom.”