Suid-Afrikaners is passievolle mense, so Faf du Plessis verstaan dat die Proteas se ondersteuners tans “ ’n bietjie kwaad is” vir die span.

Die Proteas is Woensdag in Birmingham so te sê uit die Wêreldbeker-toernooi geboender, toe Kane Williamson die Kiwi’s met ’n briljante, onoorwonne honderdtal tot ’n sege met vier paaltjies oor Suid-Afrika help voer het.

“As ’n span is ons op die oomblik net nie so goed soos ander spanne nie, maar die ouens bly veg,” het die kaptein Du Plessis ná die wedstryd gesê toe hy gevra is watter boodskap hy vir die span se ondersteuners het.

Die Proteas het nog ’n wiskundige kans om die halfeindronde te haal, maar dié kans is so skraal, dit is eintlik niksseggend.

Volgens hom het dié naelbytwedstryd herinner aan die ewe spannende Wêreldbeker-halfeindstryd in 2015, toe Nieu-Seeland die Proteas ook uit die toernooi geboender het.

“Ons is baie teleurgesteld. Dit voel amper soos vier jaar gelede teen Nieu-Seeland in Auckland, want ons het regtig goeie krieket gespeel,” sê hy.

"As ’n span is ons op die oomblik net nie so goed soos ander spanne nie, maar die ouens bly veg." - Faf du Plessis

“Dit is taai op die oomblik. Die ouens voel die pyn. My lyf is ook baie seer, ons het alles op daardie veld gelos. Dit is al waarvoor jy as ’n kaptein kan vra.

“Ons was ongelukkig net nie so goed soos die teenstanders teen wie ons gespeel het nie. Dit het oor vaardighede gegaan, nie oor honger nie, nie oor veggees of toewyding nie.

“Ek het voor die toernooi gesê dat wanneer jy alles insit en ’n beter span klop jou, dan sal die lewe aangaan.”

Du Plessis erken wel die telling van 241 wat Suid-Afrika bymekaargeskraap het nadat hulle eerste gekolf het, was moontlik “20 lopies te min”.

“Tog was dit ’n moeilike blad. Ons het die heeltyd hard probeer in die veld en met die bal. Die intensiteit was uitstekend.”

Hy sê die Proteas het iemand nodig gehad om ’n soortgelyke beurt aan dié van Williamson te speel.

’n Mismoedige Faf du Plessis spreek die media toe ná sy span ’n vierde nederlaag by die Wêreldbeker-toernooi gely het. Foto: Getty Images

“Kane het ’n baie goeie beurt gespeel en dit was waarskynlik die verskil tussen die twee spanne, net een ou wat deurgekolf het.

“Hy het gekies watter beurte en boulers hy wou teiken en verder het hy net enkellopies gemelk.”

Williamson moes uit gewees het met sy telling op 76, toe hy randjie bygekry het by ’n aflewering van Imran Tahir. Die SA paaltjiewagter, Quinton de Kock, het egter nie die geluid gehoor nie. Ook nie die skeidsregter nie.

Du Plessis sê hulle het gedink Williamson het die bal bloot gemis.

“Maar dit is nie waar die wedstryd verloor is nie. As ons so een of twee van ons halwe kanse benut het, of soos ek sê 20 lopies meer gehad het, was dit ’n ander wedstryd.”

Hy sê die Proteas kon meer lopies opgestapel het in die middelbeurte, maar die veelsydige speler Colin de Grandhomme het goed geboul.

“Ons het deur moeilike tydperke gekolf en vennootskappe begin, maar dan ’n paaltjie verloor, so ons moes die heeltyd van vooraf begin.

“Sodoende verloor jy so 15, 20 lopies en ons het die heeltyd gesê ons wil probeer om by 260, 270 uit te kom, want dit sou ’n baie goeie telling gewees het.”

Hy sê die Proteas het die heeltyd gevoel hulle is in die wedstryd, maar dat hul kolfwerk hulle in die steek gelaat het by die toernooi.

“Ons topses vergelyk nie goed met die ander, beter spanne se topses-kolwers wat statistieke betref nie.”

Die Proteas speel Sondag op Lord’s in Londen teen Pakistan in hul derde laaste wedstryd. Daarna volg daar nog kragmetings met Sri Lanka (28 Junie) en Australië (6 Julie).