Die Proteas, wie se Wêreldbeker-hoop ná slegs twee wedstryde reeds aan ’n draadjie hang, se “Plan A” was om teenstanders se kolflyste met die sneltrio van Kagiso Rabada, Lungi Ngidi en Dale Steyn uitmekaar te skeur.

“Plan A is klaar, dis weg nou,” het Faf du Plessis, die Protea-kaptein, ná hul nederlaag met 21 lopies Sondag op die Oval in Londen teen Bangladesj gesê.

In dié wedstryd het Ngidi ’n dyspierbesering opgedoen. Die verwagting is dat hy minstens Woensdag se wedstryd teen Indië in Southampton gaan misloop. Die Proteas hoop om hom gereed te hê vir die wedstryd op 10 Junie teen die Windies, ook in Southampton.

Steyn kan moontlik teen Indië ingespan word, maar sy wedstrydfiksheid is gebrekkig. Rabada lyk ook krieketmoeg en halfgebak.

Dít is nie ’n goeie plek om te wees nadat jy jou eerste twee wedstryde verloor het en boonop volgende teen een van die twee grootste gunstelinge speel nie.

“Ons Plan A was om al drie ons snelboulers op dieselfde tyd te laat boul. Dan het ons ’n baie goeie boulaanval,” sê Du Plessis.

Ons Plan A was om al drie ons snelboulers op dieselfde tyd te laat boul. Dan het ons ’n baie goeie boulaanval. - FAF DU PLESSIS

“As ons een van daardie boulers verloor, het ons ’n oukei boulaanval. Noudat ons twee verloor het, is daar druk op ons.

“Nou verander die dinamika heeltemal van hoe ons die span kies. Dit was nooit die plan nie, maar ons moet nou ’n nuwe plan maak.

“Plan B was om Anrich Nortjé te laat speel, wat ’n ekstra snelbouler is wat vinniger as 145 km/h kan boul en oor die X-faktor beskik. Hy is ook beseer.

“So nou kyk jy na jou veelsydige spelers. Ons het twee medium snelboulers onder hulle (Andile Phehlukwayo en Dwaine Pretorius) en Chris Morris, wat half tussen hulle en die snellers is.

“Nou moet ons kyk wat ons kan doen om effektief te wees. Speel al die veelsydige spelers saam? Kies ons twee draaiers?

“Ons moet ons kaarte skommel en kyk wat ons kan doen.”

As Steyn en Ngidi nie betyds herstel nie, is daar ook die opsie om hulle met spelers in Suid-Afrika te vervang. Die probleem daarmee is dat sodra ’n speler vervang word, hy nie weer na die WB mag terugkeer nie.

Dit is ook nie asof daar spelers in Suid-Afrika is wat kliphard aan die deur klop om opgeroep te word nie. Daar word verneem Beuran Hendricks en Vernon Philander is twee van die naatboulers wat op ’n gereedheidsgrondslag geplaas is. Junior Dala en Lutho Sipamla kan ook oorweeg word.

“Ons hulpbronne is beperk. As die opsie daar was om Anrich te kies, kon ons iemand dalk huis toe stuur. Maar moet ons nou albei huis toe stuur?” sê Du Plessis.

“Dale, as hy fiks is, kan steeds ’n reuseverskil aan ons vertonings maak. Dit is wat ons nou nodig het – ouens wat ’n verskil kan maak.

“Lungi is ook so ’n speler. Hy sal self erken dat hy nie tot sy volle potensiaal geboul het in die laaste twee wedstryde nie.”