Drie uit nege. Suid-Afrika se sportmal publiek sal nooit só ’n Wêreldbeker-vertoningslys vir die Proteas aanvaar nie.

Maar noudat die span se veldtog Saterdag in Manchester met ’n goedvoel-sege met tien lopies teen die Aussies oplaas tot ’n einde gekom het, kan die ontledings begin oor waar presies alles verkeerd geloop het.

Die Proteas moet ook reeds begin om aantekeninge te maak oor foute wat hulle nie weer in 2023 in die volgende WB-toernooi in Indië durf maak nie.

Wat vanjaar se veldtog betref, het sake in hul tweede wedstryd teen Bangladesj reeds ontspoor. Daardie nederlaag het die Proteas vir die res van die toernooi op die agtervoet geplaas.

Faf du Plessis, die kaptein, het Saterdag erken hy het ’n fout gemaak deur in daardie wedstryd eerste te boul.

“Maar teen spanne van die subkontinent, as jy hulle vir 250, 280 kan uitboul, kan jy dit maklik jaag,” het hy sy redenasie verduidelik.

“Maar as hulle 320 kry, is hulle reg in die wedstryd. Ons plan daardie dag was nooit om hulle toe te laat om 330 te kry nie, dit was om hulle vir 250 uit te boul.

“Teen Afganistan en Sri Lanka het ons hulle goedkoop uitgeboul en die teikens baie maklik gejaag. Dis altyd die waagstuk as jy teen spanne van die subkontinent speel, want as hulle ’n goeie telling kry, is hul draaiers altyd gevaarlik.

“Ek kyk terug na die lote as iets wat ek kon verander, maar ons vaardighede was nooit goed teen Bangladesj nie, ons het baie swak geboul.”

Ons was onbestendig. Maar die laaste twee wedstryde was ons briljant. Dis hartseer dat dit nie vroeër gebeur het nie.

’n Tweede rede vir die vrot WB-veldtog is dat die Proteas nooit die span beskikbaar gehad het waarmee hulle graag wou speel nie. Die plan moes dus verander.

“Ons plan het verander die oomblik toe ons nie die boulaanval kon inspan wat ons wou nie. Die plan was om ons boulaanval te vertrou om die teenstanders uit te boul vir minder lopies as wat ons aangeteken het,” sê hy.

“Ons het nie in een wedstryd met ’n volsterkte span gespeel nie. Dale Steyn was nooit beskikbaar nie en Lungi (Ngidi) was nooit heeltemal waar hy wou wees nie, want hy het net voor die WB met twee beserings gesukkel.

“So die X-faktor was nie daar nie. Dus moes ons probeer aanpas en op ander maniere wen.”

Dít kon hulle nie doen nie, want die kolwers het gesukkel om groot lopies aan te teken.

“Deur dié WB het ons gesien dat as jy tellings van 320-plus aanteken, sal jy dit kan verdedig, of as jy spanne vir baie minder uithaal, dan kan jy teen jou eie tempo kolf.

“Ons was onbestendig. Maar die laaste twee wedstryde was ons briljant. Dis hartseer dat dit nie vroeër gebeur het nie.”

Hy is wel bly dat hulle teen Sri Lanka in Durham en die Aussies op Old Trafford gewys het dat hulle nie “binne twee weke in ’n swak span verander het nie”.

“Mense gee ons met reg baie opdraand, want ons het nie goeie krieket gespeel nie.

“Nou het ons die wêreld gewys dat ons steeds ’n goeie span is. Jy het een of twee dinge nodig wat in jou guns tel, ’n bietjie geluk, geen beserings nie en goeie vertonings. Dit is die verskil tussen die topspanne en die spanne wat nie die halfeindronde gehaal het nie.”

Hoe gemaak in 2023?

Du Plessis, wat teen daardie tyd nie meer gaan speel nie, het sy mening gelug oor wat die Proteas voor die WB in 2023 moet regruk.

“Ons het ’n bietjie met die balans van ons span gesukkel. Ons het altyd ’n kolwer of ’n bouler te min gehad, so ek hoop daardie probleem word in vier jaar opgelos.”

Die spanne wat hier die beste vaar, het elkeen ’n puik balans, met ’n lang kolflys en spoed onder die boulers.

Die Proteas benodig dus dringend ’n goeie veelsydige speler, wat in die topses kan kolf en maklik tien beurte kan afstuur. Iemand soos die jong Wiaan Mulder is vir so ’n rol geoormerk.

“Die perfekte spankombinasie is wanneer jy ’n sesde boulopsie het en ’n topsewe en selfs ’n nr. 8 en nr. 9 het wat kan kolf.

“Die spanne wat hier die beste vaar, het elkeen ’n puik balans, met ’n lang kolflys en spoed onder die boulers.”

Volgens hom sal dit die span ook baat om te rus wanneer hulle die kans kry. Die Proteas het ’n paar dae af gehad voor hul wedstryd teen Australië en Du Plessis sê dit het ’n groot verskil gemaak.

Hy sê die spanne wat goed vaar, het ook boulers met baie spoed. “Soos Mitchell Starc vir Australië, Lockie Ferguson vir Nieu-Seeland en Jofra Archer vir Engeland.

“In Suid-Afrika sal ons egter altyd vaart hê, so ek hoop ons balans is reg.”

Hy sê draaiers gaan ook ’n groot rol speel in die volgende WB wat in Indië beslis gaan word.

“Hoe goed ons teen draai kolf en hoeveel draaiersopsies ons het, gaan belangrik wees. Op die oomblik het ons drie, vier ouens wat baie goed teen draaiers is en ’n paar jong ouens wat tyd aan hul kant het om te verbeter.”

Aiden Markram het ’n blink toekoms, maar die Aussies het opnuut sy kwesbaarheid teen goeie draaiers blootgelê. Hy en Quinton de Kock het die potensiaal om ’n skitterende aanvangspaar te wees, maar veral Markram se speelwerk teen draaiers moet verbeter.