Suid-Afrikaanse krieketondersteuners het die volste reg om hul misnoeë te kenne te gee met die span se vertonings in die Wêreldbeker-toernooi.

Só het die kaptein, Faf du Plessis, Maandag gesê met die span se terugkeer ná hul mislukte toernooi in Engeland.

“Jy kan hulle nie kwalik neem dat hulle voel soos hulle voel nie. Dit is heel normaal,” het Du Plessis by die OR Tambo-lughawe gesê.

“Ek kan net jammer sê.”

“Ek het baie passie om vir my land te speel en ek is mal daaroor om die kaptein te wees. Ja, ek ervaar ook baie pyn. Seker selfs nog meer as baie van die ondersteuners.

“Tyd sal egter al hierdie wonde genees,” sê hy.

“As kaptein van die span neem ek verantwoordelikheid vir wat gebeur het.

Ons vertonings vroeg in die toernooi was baie teleurstellend. Ek is egter trots om te kan sê ons het in die laaste twee wedstryde gewys waartoe ons in staat is en dat ons dié wedstryde kon wen.

“Ons het nie vertoon soos ons vooraf verwag het nie. Daar was net een honderdtal (die een wat hy in die laaste wedstryd teen Australië geslaan het) en nie een bouler kon vyf paaltjies in ’n kolfbeurt neem nie.

“Met die formaat van die toernooi soos dit is, kon jy nie wegkom met ’n paar gemiddelde vertonings nie. As jy so-so gespeel het, kon jy glad nie oorleef nie,” sê Du Plessis.

“Ons vertonings vroeg in die toernooi was baie teleurstellend. Ek is egter trots om te kan sê ons het in die laaste twee wedstryde gewys waartoe ons in staat is en dat ons dié wedstryde kon wen.

“Wie weet, dalk het ons nog die wêreldkampioen (Australië) geklop sou hy die eindstryd haal en die toernooi beklink,” sê hy.

Volgens Du Plessis het hy as kaptein nie altyd die steun van die senior spelers gehad nie, aangesien van hulle se selfvertroue laag was en hulle nie volgens die gehalte gespeel het waartoe hulle in staat is nie.

“Die ondersteuningstelsel wat nodig was om die las te dra, was afwesig,” sê hy.

“Emosioneel is ons tenks nou leeg. Dit was ook nie dat ons die eerste deel van die toernooi met ’n té ontspanne benadering ingegaan het nie. Daar was dalk wel tye wanneer ons té gemaklik was en ek moes ook miskien meer na van die plaaslike kenners by van die velde geluister het oor wat my te doen gestaan het wanneer ek ’n loot gewen het,” sê hy.