Die Proteas voel dit is nog te vroeg om die sakrekenaars te begin uithaal om te sien wat hul kanse is om die halfeindronde van die Wêreldbeker-toernooi te haal.

Al wat hulle weet, is dat hulle voortaan elke wedstryd moet wen.

“Dit is nog te ver weg (om somme te begin maak). Nou moet ons net op ons vertonings fokus,” het Faf du Plessis, die Protea-kaptein, Maandag gesê nadat hul wedstryd teen die Windies in Southampton uitgereën het.

Ná vier wedstryde het Suid-Afrika dus net een ligapunt. Met vyf wedstryde oor, is die meeste ligapunte waarop hulle kan eindig 11. Minstens vier spanne kan nog op 12 punte eindig.

Hul lot is dus nie meer in hul eie hande nie. Maar die manier waarop hulle speel, is wel.

“Ons moet ons vaardighede uitsorteer en ons selfvertroue weer terugkry en dít doen jy deur twee, drie wedstryde agtereenvolgens te wen.

Ons sal dus ’n ogie op die ander uitslae hou, maar dit is buite ons beheer
Faf du Plessis

“Ons kan eintlik eers in die laaste week na die puntelys begin kyk.”

Hy sê die Proteas wil tog nou hê die voorste spanne, soos Indië, moet aanhou wen sodat al die spanne nie op dieselfde aantal punte, of baie naby aan mekaar, eindig nie.

“Ons sal dus ’n ogie op die ander uitslae hou, maar dit is buite ons beheer.”

Elke wedstryd is nou wel soos ’n eindstryd vir Suid-Afrika.

“Dit is so eenvoudig soos dit. Ons is in dié posisie omdat ons nie goeie krieket gespeel het nie, so ons verdien dit nie om naby die spits van die puntelys te wees nie.

“Dit is baie duidelik vir ons dat ons op ons beste moet wees en goed moet speel in die volgende vyf wedstryde.

“Volgende speel ons teen Afganistan (Saterdag in Cardiff) en hulle is ook ’n gevaarlike span.

“Ons moet beter krieket begin speel en meer bestendig wees. As ons dít doen, sal die uitslae een vir een verbeter en dan sal ons selfvertroue hê vir die latere fases van die toernooi.”

Du Plessis sê die span kan selfvertroue begin opbou as spelers na vore begin tree.

“As een ou ’n groot honderdtal slaan . . . dis aansteeklik.”

Tog is die spelers nie in sak en as nie.

“Die gevoel in die kamp is steeds baie goed. Die ouens geniet dit om op toer te wees, ons het nog pret.

“Dit gaan net oor die vertonings wat nie goed genoeg was nie.”

Hy sê sodra ’n span ’n paar wedstryde begin verloor, kan daar krake in die span begin verskyn. Dit is egter glad nie die geval met die Proteas nie.

“Ons is baie ver van daardie punt af. Dit is ’n goeie teken vir die span en ’n getuigskrif van die spankultuur.”