’n Blink toekoms in al drie formate lê vir Rassie van der Dussen voor, voorspel Faf du Plessis.

Van der Dussen (95, 96 balle, 4x6) het Saterdag ’n vennootskap van 151 lopies met die Protea-kaptein, Du Plessis (100, 96 b), gedeel om Suid-Afrika tot ’n oorwinning met tien lopies in sy laaste Wêreldbeker-wedstryd teen Australië in Manchester te voer.

Du Plessis het ná die wedstryd gesê Van der Dussen se beurt was ’n skitterende voorbeeld vir jong kolwers oor hoe hulle moet speel as ’n kolfbeurt moeilik begin. Van der Dussen het aanvanklik gesukkel en ’n stonkkans om hom uit te kry, is verbrou met sy telling op 4 van ’n enorme 22 balle.

“Sowat 95% van spelers sou paniekerig word en probeer om hulle uit so ’n situasie te moker,” het Du Plessis ná die oorwinning gesê.

“Die gesprekke tussen ons was dat hy net kalm moet bly. “Hy is ’n baie kalm speler en dit is waarom hy so vinnig so goed gevaar het in sy loopbaan. Hy het ’n baie volwasse kop op sy skouers.

“Ek dink Rassie het ’n blink toekoms, dalk in al drie formate vir Suid-Afrika. Hy het daardie iets ekstra wat nodig is om goed te vaar op die internasionale verhoog.”

Ek sal die oorwinning met ’n 95 vat, liewer as ’n 100 en ’n nederlaag.

Van der Dussen sê Du Plessis het hom rustig gehou deur daardie moeilike tydperk.

“Dit was taai aan die begin, ek kon nie aan die gang kom soos wat ek gewoonlik doen en soos wat ek graag wil nie,” sê Van der Dussen.

“Nathan Lyon en Pat Cummins het albei baie goeie skofte geboul toe ek ingekom het. Ek het dit moeilik gevind om die slag te roteer en hulle is boulers van wêreldgehalte.

“Faf was baie goed in daardie tydperk en hy het my deur daardie moeilike periode gedra. Hy is so ervare, hy het al alles gesien.

“Hy het dit reggekry om die momentum te behou.

“Ek het geweet as ek inbly, sou ek kon opvang. Ek is teleurgesteld dat ek nie ’n honderdtal kon kry nie, maar dit was net nie my dag vir ’n 100 nie.

“Ek sal die oorwinning met ’n 95 vat, liewer as ’n 100 en ’n nederlaag.”

In 14 eendagbeurte sedert die 30-jarige sy buiging in Januarie gemaak het, het hy reeds sewe vyftigtalle aangeteken. Twee van daardie tellings was in die 90’s. Hy het hom bewys as ’n rots in die Protea-kolflys en hy word reeds deur Du Plessis as ’n moontlike kandidaat vir die kapteinskap voorgehou.

Van der Dussen sê hy wil ’n kolwer wees wat in taai tye gedy.

“Ek wil graag die ou wees wat onder druk goed vertoon en na vore tree wanneer die span dit regtig nodig het.”

Hoewel ’n oorgangsfase in Protea-krieket voorlê, glo Van der Dussen die span is op ’n goeie plek.

“As ’n span weet ons waartoe ons in staat is. Gelukkig het ons dit vandag gewys teen een van die sterkste spanne in die toernooi, al is ons nie in ’n wonderlike posisie in die toernooi nie.

“JP (Duminy) en Imran (Tahir) tree uit en hulle laat groot leemtes, maar ons het ouens wat deurkom. Hashim (Amla) kan moontlik nog ’n jaar speel, dalk nie, maar ons het vandag gesien ons het vir Aiden (Markram) wat gereed is om daardie rol in te neem.”