Lord’s. Die tuiste van krieket. En ná Sondag ook die finale lêplek van die Protea-klas van 2019 se Wêreldbeker (WB)-aspirasies.

Nou, nadat Pakistan hulle met 49 lopies afgeslag het in ’n koue, bewolkte Londen voor ’n skare wat jou laat dink het jy is in Lahore, is dit finish en klaar. Daar is nie eens meer ’n wiskundige kans dat die vrotsige en futlose Suid-Afrikaanse krieketspan die halfeindronde kan haal nie.

Nie al verloor Engeland al drie sy wedstryde nie. Nie al sing koningin Elizabeth Shosholoza in die voorportaal van Buckingham-paleis nie.

Dit is ook niks minder as wat die stotterende, verwarde Proteas verdien nie.

Die Pakistani’s vier die paaltjie van Aiden Markram. Foto: Getty Images

Nadat Sri Lanka se skokoorwinning Vrydag oor Engeland die Proteas se halfeindhoop lewend gehou het, sou ’n mens verwag dat die spelers Sondag met ’n vreeslose doelgerigtheid op die veld stap.

Toe nie. Pakistan is toegelaat om ’n telling van 308/7 op te stapel nadat hy die loot gewen en besluit het om eerste te kolf. Suid-Afrika se kolfpoging het op 259/9 geëindig.

In die openingsbeurte van Pakistan se kolfbeurt het dinge reeds begin skeefloop. Kagiso Rabada (0/65 in tien beurte) en Lungi Ngidi (3/64 in nege bbe.) was soos kwaai waghonde sonder tande – hulle wou skade aanrig, maar het nie geweet hoe nie.

Balle is óf te vol óf te kort geplant. ’n Goeie, harde lengte wat die kolwer toets, is weinig gevind. Die gevolg was dat Pakistan ná agt beurte tot by 54/0 gejaag het.

Die immergroen Imran Tahir (2/41 in tien bbe.) het Suid-Afrika terug in die wedstryd gebring toe hy van Fakhar Zaman (44) en Imam-ul-Haq (44) ontslae geraak het.

Babar Azam (69) het Pakistan op koers na ’n groot telling gehou en die nr. 5-kolwer, Haris Sohail (89, 59 balle), het die nodige adrenalien-inspuiting gegee wat die Pakistanse beurt benodig het.

Hoewel hulle in die doodsnikbeurte beter was, was die boulwerk van Rabada en Ngidi kommerwekkend. Ngidi lyk nie heeltemal fiks nie en Rabada blyk twee striemende gim-sessies weg van fisieke uitbranding te wees.

Hy word in baie kringe as die beste snelbouler in die wêreld beskou, maar sy vertonings in Engeland het min gedoen om dié reputasie te verstewig.

Sy boulgemiddeld in die toernooi is 50.83 nadat hy net ses paaltjies in ses beurte kon plattrek. Dít terwyl hy met ’n loopbaan-gemiddelde van 27.16 spog.

Buiten sy eerste boulskof teen Indië, het hy geen teenwoordigheid op die veld gehad, soos waaraan Suid-Afrikaners die laaste vier jaar gewoond geraak het nie. Kolwers het hom nie gevrees nie.

In minder verbasende nuus, het Suid-Afrika se kolfbeurt met die paaltjie van Hashim Amla begin. Hy is been voor paaltjie deur Mohammed Amir betrap.

Die Proteas moet maar vir Aiden Markram die beurt vir die laaste twee wedstryde teen Sri Lanka en Australië laat begin en vir JP Duminy herroep – want só kan hulle nie met Amla voortploeter nie. Markram (7) was egter ook vrot Sondag.

Quinton de Kock (47, 60 b) en Faf du Plessis (63, 79 b) het gedoen wat Protea-kolwers maar tot dusver in dié WB gedoen het – gedreig om ’n beurt en ’n vennootskap te begin bou, maar toe hul paaltjies verloor.

Nadat hul vennootskap van 87 met die paaltjie van De Kock (b Shadab Khan, v Imam-ul-Haq) beëindig is, was dit die begin van die einde.

Andile Phehlukwayo (46*, 32 b; 6x6) het aan die einde moedig probeer, maar dit was eenvoudig te laat.

Suid-Afrika het gesukkel om veral die draaiboulwerk van Khan (3/50 in tien bbe.) baas te raak. Amir (2/49 in tien bbe.) en Wahab Riaz (3/46 in tien bbe.) was ook skitterend.

In die meeste van die ander wedstryde het die kolwers die span gefaal ten spyte van goeie boulwerk. Dié keer was die boulers, buiten Tahir, die span se ondergang.

Met elke halwe geleentheid wat die Pakistani’s gehad het, het die stadion in opwinding vibreer. Selfs al het hulle verskeie vangkanse verbrou, was daar ’n positiewe gees onder die Pakistani’s in die ou paviljoene.

Hulle weet hul span het nog ’n kans. Die Suid-Afrikaners kan hulself wel troos aan die wete dat die hoop nou weg is en die vyf fases van verdriet kan begin.

Dalk bereik ondersteuners die vyfde vlak – aanvaarding – selfs voordat die Proteas op 7 Julie ná hul kragmeting met Australië in Manchester, na Suid-Afrika terugkeer.

Dan sal die spelers minstens nie nóg houe van ontstoke ondersteuners hoef af te weer wanneer hulle by die O.R. Tambo-lughawe aankom nie.