’n Futloos en ongeïnteresseerde lot Protea-boulers en -veldwerkers is Sondag tydens Bangladesj se kolfbeurt op die Oval na willekeur rondgejaag.

’n Vingertrek-poging is in die 35ste boulbeurt deur Imran Tahir ingelei, maar die Proteas het in die laaste paar boulbeurte weer drooggemaak en sal Bangladesj se telling van 330/6 moet oortref as hulle groot skandes in dié Wêreldbeker (WB)-stryd wil vermy. ’n Teiken van 330 of meer is nog nooit suksesvol in ’n WB-wedstryd gejaag nie.

Regstreeks: Suid-Afrika t. Bangaladesj

Die Proteas het vroeg reeds teëspoed opgetel toe die snelbouler Lungi Ngidi die veld met ’n linkerdyspierbesering verlaat het nadat hy slegs vier boulbeurte afgestuur het. Meer duidelikheid oor die erns van sy besering sal ná die wedstryd verkry word. 

Sy fiksheid is rede tot kommer, aangesien hy én Dale Steyn (skouer) nou met skete sukkel. Die Proteas hoop wel om Steyn in die volgende wedstryd, teen Indië Woensdag in Southampton, in te span. 

Suid-Afrika se plan voor die WB-toernooi was om die sneltrio van Kagiso Rabada, Ngidi en Steyn saam op teenstanders se kolflyste los te laat om skade aan te rig. 

Daardie plan is nou liederlik in die gedrang en toe Ngidi die veld Sondag verlaat het, kon ’n mens ’n voorsmakie kry van hoe gedwee die Suid-Afrikaanse aanval word as twee van daardie drie nie beskikbaar is nie.

Die Proteas het heeltemal hulpeloos en selfs laks voorgekom vir ’n groot gedeelte van Bangladesj se beurt. Die boulers was ongedissiplineerd wat hul lyne en lengtes betref, veral in die middelbeurte.

Eers het die aanvangskolwers, Tamim Iqbal (16, 29 balle; 2x4) en veral Soumya Sarkar (42, 30 b; 9x4), die Proteas kasty met ’n vennootskap van 60 in slegs agt beurte. 

Sarkar is boonop in die glippe laat val van Rabada (0/57 in tien bbe.) se boulwerk met sy telling op 14. 

Andile Phehlukwayo (2/52 in tien bbe.) het die aanvanklike deurbraak gemaak en van Iqbal ontslae geraak. Chris Morris (2/73 in tien bbe.) het Sarkar vier beurte later uitgekry.

Hierna het Bangladesj se beste kolwers, Shakib al Hasan (75, 84 b; 8x4, 1x6) en Mushfiqur Rahim (78, 80 b; 8x4), ’n skitterende vennootskap van 142 van 141 aflewerings gedeel en hul span tot ’n belowende posisie gekolf. 

Tahir (2/57 in tien bbe.), wat in sy 100ste eendagwedstryd speel, het die broodnodige deurbraak in die 36ste boulbeurt gemaak deur Al Hasan skoon te boul. Hy het vier beurte later vir Mohammad Mithun (21, 21 b) ook uitgekry. 

Phehlukwayo, Suid-Afrika se beste naatbouler in die wedstryd al het hy ’n paar wydlopers in sy laaste beurt geboul, het in die 43ste beurt van Rahim ontslae geraak.

’n Vennootskap van 66 van 44 balle deur Mahmudullah (46*, 33 b) en Mosaddek Hossain (26, 20 b) het Bangladesj weer in beheer geplaas.

Al is die blad goed vir kolfwerk, sal Suid-Afrika goed moet kolf as hulle nie weer, soos by die WB van 2007, deur die Tiere geskok wil word nie. Dit sal ook sonder Hashim Amla gedoen moet word, nadat hy, soos verwag is, weggelaat is nadat Jofra Archer hom Donderdag in die eerste wedstryd teen Engeland teen die kop raakgeboul het. Aiden Markram sal die kolfbeurt saam met Quinton de Kock begin. David Miller is in Amla se plek by die elftal ingesluit. 

In die ander verwagte spanverandering, het Morris vir Dwaine Pretorius vervang.