Maak geen fout nie – dit kán erger raak. Sommer baie erger. Die Proteas is bykans reeds uit die wedloop om ’n plek in die halfeindronde van die Wêreldbeker-toernooi, nadat hulle Woensdag in Birmingham ’n naelbyt-wedstryd teen ’n puik Kiwi-span verloor het.

Maar dít is het WB-einde niet. En as veral die kolwers nie vinger trek in Sondag se wedstryd teen Pakistan op Lord’s nie, is dit maar net die begin van die verdriet.

Ondersteuners gaan nog ’n wyle lank droewig wees oor die WB-nagmerrie, maar in die Protea-kamp kan die spelers nie bekostig dat hul emosies hul lamlê nie.

Pakistan het nog ’n skrale kans om die halfeindronde te haal as hy al vier sy oorblywende wedstryde wen, so vir die span van Mickey Arthur is Sondag se kragmeting op die tuiste van krieket nie een van blote akademiese belang nie.

Die onvoorspelbare Pakistani’s sal dus speel asof hul veldtog daarvan afhang. Want dit doen. As die Proteas dan dikbek en bedroef opdaag, gaan hulle liederlik gekasty word.

En dan begin dinge régtig lelik raak. Dan staan die Proteas die kans om slegs bo Afganistan en dalk ook Sri Lanka, wat ook nog in Suid-Afrika se pad staan, te eindig.

Hulle kan ook erg uitsak op die wêreldranglys, vir wat ook al dít vir hulle werd mag wees.

Hulle kan ook erg uitsak op die wêreldranglys, vir wat ook al dít vir hulle werd mag wees.

Aan die keersy – as Suid-Afrika Pakistan klop, Sri Lanka volgende Vrydag in Durham verslaan en die Aussies dan op 6 Julie in Manchester ’n opstopper gee, sal die lang messe wat nou vir hulle uitgehaal word, dalk vir eers weggesit word.

Die Proteas lyk na ’n span wat eenvoudig nie oor die kolwers beskik om ’n titelaanspraakmaker te wees nie.

Dít terwyl ons weet daar ís kolwers wat ’n wedstryd eiehandig kan swaai in daardie elftal. Quinton de Kock is een, Faf du Plessis ook. Selfs Hashim Amla en David Miller het al wedstryde vir die span gewen.

Amla se rakleeftyd is egter verby en Miller is chronies onbestendig, maar De Kock en Du Plessis se spelpeil is nie té vrotsig nie.

’n Teleurgestelde Chris Morris ná die Kiwi-nederlaag. Foto: Getty Images

Hulle moet net aan die gang kom, want die Proteas smag na ’n honderdtal. Dit sal ’n sonde wees as hulle ná nege wedstryde terugkeer na Suid-Afrika sonder dat ’n enkele kolwer ’n honderdtal aangeteken het.

Dít is natuurlik altyd iets wat op die spel is wanneer alles anders kwyn – persoonlik ambisie. Aiden Markram, De Kock, Rassie van der Dussen en Miller (as hy sy potensiaal begin bereik) kan almal in die volgende WB speel.

Hulle sal ’n stelling wil maak. Wil wys hulle kán op hierdie verhoog presteer. Markram en Van der Dussen is boonop albei nog opsoek na hul eerste eendaghonderdtal in Protea-kleure.

Onder die boulers kan dit dalk ’n goeie idee wees om Beuran Hendricks kans te gee in Kagiso Rabada se plek. Rabada lyk krieketmoeg. Dit is so ’n groot jammerte, want Rabada is ’n wêreldster en Krieket Suid-Afrika (KSA) moes gesorg het dat hy op sy verstommende allerbeste is op die grootste verhoog.

Hy was ver van power, maar daardie uitstekende boulskof wat ons teen Indië in Southampton gesien het, moes die reël, en nie die uitsondering nie, by dié WB gewees het.

Daar is dus nog baie op die spel. Baie kan ook verkeerd gaan. Die Proteas moet besluit wat hulle met die klas van 2019 se nalatenskap wil doen.

TV: Sondag vanaf 11:30 (SS 2, SS 13, GDN; vanaf 19:30 op SABC 3).