Die AB de Villiers-debakel is dalk net die vonk wat die Protea-vuur aan die brand kan kry by die Wêreldbeker (WB)-toernooi in Engeland.

’n Nagmerrie-tyd van twee weke het die Proteas se Wêreldbeker-ambisie tot op die rand van die afgrond gebring. Hulle het hul eerste drie wedstryde verloor, Dale Steyn moes terugkeer na Suid-Afrika weens ’n skouerbesering, Lungi Ngidi sukkel met ’n dyspierbesering én nou het die bom gebars dat AB de Villiers ter elfder ure gevra het of hy by die WB-groep ingesluit kan word.

Faf du Plessis se kolf spat uit sy hande nadat hy deur Hardik Pandya raakgeboul is tydens Suid-Afrika se nederlaag teen Indië die afgelope week by die Rose Bowl in Hampshire. Foto: getty images

Die AB-bom het Donderdag gebars. Dit het uiteraard baie aandag van die Proteas se vertonings afgelei voor hul kernbelangrike vierde wedstryd teen die Windies môre in Southampton.

Ottis Gibson, die Protea-breier, wil egter hê dit moet sy kolwers, wat tot dusver almal vrot was, aanvuur.

“Hulle moet dit gebruik as motivering om lopies te slaan en te wys hulle verdien dit om hier te wees,” het Gibson gister gesê.

“In al die reekse wat ons gewen het sedert AB weg is, het daardie selfde kolwers lopies aangeteken. Rassie (van der Dussen) het ingekom en sy gemiddeld was 80 of iets toe ons hier aangekom het.

“Hash (Amla) het gesukkel, maar nou lyk hy weer goed. Aiden het gesukkel, maar toe begin hy baie lopies slaan, so die ouens wat hier is, kan lopies aanteken.

“Ons het na die WB gekom en dit was taai sover. Ons het nog nie gewen nie. Ons het nog nie goed gespeel nie.

“Maar die boodskap wat ek vir die ouens gegee het, is dat die Wêreldbeker ’n toernooi van ses weke lank is. Ons het ’n slegte week gehad. Ons is die enigste span wat drie wedstryde in ’n week gespeel het. Ons het al drie wedstryde verloor.

“Nou het ons Maandag ’n wedstryd wat ons ’n kans gee om te hergroepeer.”

Hy sê die spelers het eerlike gesprekke gevoer in die twee dae wat hulle afgehad het.

“Veronderstel ons het ’n goeie week volgende week en ons wen twee wedstryde, dan verander dinge skielik.”

Gibson sê die span put baie selfvertroue uit die reg-of-weg-wedstryd wat hulle verlede jaar in hul reeks teen die Aussies in Australië gewen het.

“Ons het verlede jaar na Australië gegaan en die reeks daar gewen. Die reeks was met 1-1 gelykop en ons het gesê goed, kom ons benader die wedstryd soos ’n WB-eindstryd.

“David (Miller) het ’n skitterende honderdtal gekry, Faf (du Plessis) het ’n honderdtal geslaan en ons het die wedstryd gewen. Ons weet dus dat ons krieket kan speel.”

Volgens hom is dit belangrik dat die senior kolwers, soos Du Plessis, Miller, Amla en Quinton de Kock, na vore moet tree as die Proteas hul veldtog op koers wil kry. “Ons het kolwers wat honderdtalle kan aanteken.”

Gibson, ’n Barbadaan, het Chris Gayle as die Windies se gevaarlikste speler uitgesonder.