Ottis Gibson, Protea-afrigter, sê hy moet nou, ná twee nederlae in Suid-Afrika se eerste twee Wêreldbeker-wedstryde, sy spelers herinner aan hoe goed hulle is.

“Ons sê vir die ouens hoe goed hulle is, ons neem hulle terug na al die goeie ervarings wat ons in ons laaste tien wedstryde gehad het,” het Gibson Sondag in Londen gesê nadat Bangladesj Suid-Afrika met 21 lopies op die Oval geskok het.

“Ons het gekyk na wat ons gedoen het in Australië en Sri Lanka verlede jaar en weet dat ons nie ’n swak span is nie. Ons speel tans nie goed nie, maar ons is nie ’n slegte span nie.”

Die Proteas het verwag om die Tiere te klop, sê Gibson, “maar in sport is daar geen reël wat sê die gunsteling gaan wen nie”.

“Vra maar vir Anthony Joshua. Hy was die gunsteling vir sy boksgeveg (teen Andy Ruiz), maar hy is planke toe gestuur,” sê Gibson.

“Ek is seker hy sal opstaan en die volgende geveg wen. Dit is wat ons ook wil doen.”

Die afrigter glo boonop dit is nie noodwendig ’n slegte ding om vroeg in ’n toernooi te verloor nie.

“Dan kan jy leer en verbeter. As jy in die laaste week verloor, gaan jy huis toe. Nou het ons twee wedstryde verloor, dit maak seer, maar ons is steeds hier.

“Ons het steeds ’n kans om te verbeter. Ons verloor liewer nou as in Julie.”

Dale reken hy is so 85% reg. Ons moet besluit of 85% genoeg is om teen Indië te speel.

Gibson het vir die spelers gesê daar is geen plek om weg te kruip in ’n Wêreldbeker-toernooi nie. Volgende pak hulle Indië Woensdag in Southampton en dit gaan ’n reusestryd wees.

Suid-Afrika gaan die Indiërs boonop sonder die snelbouler Lungi Ngidi moet pak, wat ’n dyspierbesering teen Bangladesj opgedoen het en minstens ’n week buite aksie gaan wees. Hulle moet ook nog ’n besluit oor Dale Steyn neem, wat nog herstel van ’n skouerbesering.

“Dale reken hy is so 85% reg. Ons moet besluit of 85% genoeg is om teen Indië te speel.”

Met of sonder Steyn, Gibson wil ’n beter boulvertoning sien.

“Ons boulvertoning was nie goed genoeg nie. Bangladesj het 54 lopies in die laaste vier beurte aangeteken.”

LONDON, ENGLAND - JUNE 2 : Dale Steyn of South Afr
Dale Steyn. Foto: Getty Images

Gibson wil meer streepballe in die doodsnikbeurte sien. “Dit is iets wat ons baie oefen.”

Kagiso Rabada, Suid-Afrika se beste bouler, het ook nog geen impak gemaak nie. Sy syfers van 2/66 teen Engeland en 0/57 teen Bangladesj is ver benede sy standaard.

“KG sal teleurgesteld wees dat hy nie toeslaan soos wat ons weet hy kan nie. Hy wil nie die beste bouler in Suid-Afrika wees nie, hy wil die beste bouler in die wêreld wees.

“Ek is seker as hy sien die impak wat iemand soos Jofra Archer het, is dit vir hom sleg, want hy wil iets soortgelyks doen en sy eie stempel op die Wêreldbeker afdruk. Maar daar is nog tyd.”

Die kolwers moet ook vingertrek.

Ek weet nie, my taak is die Wêreldbeker en om ons uit hierdie klein sloot te kry waarin ons is.

“Ons moet ons kolwers kry om te glo hulle kan groot beurte speel.

“As dit ’n reeks teen Sri Lanka, of ’n reeks teen Bangladesj was, het iemand teen dié tyd waarskynlik al ’n honderdtal geslaan.”

Tussen al die krieketprobleme deur, is Gibson se toekoms boonop duister.

Thabang Moroe, uitvoerende hoof van Krieket Suid-Afrika (KSA), het vroeër vanjaar onthul daar is ’n ultimatum aan Gibson gestel dat hy minstens die eindstryd moet haal as hy oor ’n verlenging van sy kontrak wil onderhandel.

Is dit steeds die geval?

“Ek weet nie, my taak is die Wêreldbeker en om ons uit hierdie klein sloot te kry waarin ons is.”