David Warner “leef sy droom” en die knaende uitjouery deur Engelse ondersteuners, gretig om hom aan sy jaar lange skorsing vir balpeutery te herinner, sal hom nie onderkry nie.

Dié hotklou-buksie het Dinsdag op Lord’s ’n aanvangsvennootskap van 123 lopies met sy kaptein, Aaron Finch, gedeel en het die grondslag help lê vir ’n klinkende sege oor die Wêreldbeker-gasheernasie, Engeland.

Dit was Warner se sewende wedstryd vir die Aussies sedert hy sy skorsing uitgedien het en sy beurt van 53 het sy lopietotaal in dié toernooi reeds tot 500 lopies teen ’n puik gemiddeld van 83.33 opgestoot.

Soos nog by elke wedstryd waar Australië in dié toernooi gespeel het, is Warner en sy gewese kaptein, Steve Smith, luidkeels uitgejou.

Warner, wat in ’n moeilike voorstad van Sydney grootgeword het, sê egter hy laat hom nie onderkry deur die Engelse toeskouers nie.

“Op die ou einde betaal mense om die krieket te kom kyk en het hulle die reg om ons uit te jou, as hulle wil,” het Warner aan verslaggewers by Lord’s gesê.

“Ek gedy wanneer daardie tipe ding gebeur. Al wat ek doen, is om te glimlag. Ek haal my sonbril af, kyk die toeskouers in die oë en glimlag vir hulle.

“Ek leef my droom om hier op Lord’s vir my land krieket te kan speel.”

Volgens Warner het sy 12 maande uit die internasionale arena hom gehelp om weer perspektief te kry.

“Ek geniet nou weer die spel. Wanneer dit van jou weggeneem word, besef jy waaroor dit eintlik gaan.

“Toe ek op Saterdagmiddae klubkrieket gespeel het (tydens sy skorsing), het ek die glimlag op mense se gesig opgelet. Ek het waardering gekry vir die vrywilligers wat tyd en moeite ingesit het om middagetes voor te berei of drankies op die veld te neem.

“Mense soos my ouers het veld toe gekom om ons te ondersteun. Jy kan dít nie as vanselfsprekend aanvaar nie. Ek is net dankbaar dat ek ’n tweede kans gebied is om my land hier te kom verteenwoordig en trots te maak.”

Australië, wat reeds vir die halfeindronde gekwalifiseer het, kom Saterdag teen Nieu-Seeland te staan. Die Kiwi’s sal met ’n sege, gelykopuitslag of ’n uitgereënde wedstryd (wat een ligapunt in die sak bring) ook vir die halfeindronde kwalifiseer.

– Reuters