Chris Morris se insluiting in die Suid-Afrikaanse krieketgroep vir die Wêreldbeker-toernooi ten koste van die beseerde Anrich Nortjé is nie vir al sy spanmaats “goeie” nuus nie.

Chris Morris se energie gaan aansteeklik wees in die Proteas se Wêreldbeker-groep, sê sy spanmaat Lungi Ngidi. Foto: Gallo Images

“Daar gaan ons kans nou om op daardie vliegtuig Engeland toe te slaap,” het die snelbouler Lungi Ngidi vandeesweek by die Titans se prysuitdeling by die Serengeti-landgoed naby Kempton Park geskerts.

“Met Morrie daar, sal niemand ’n oog kan toemaak nie. Hy is ’n babbelbek van formaat en bly net nooit stil nie. Ek kry die ouens wat langs hom op daardie vliegtuig beland baie jammer,” sê Ngidi.

Hy het op ’n ernstiger noot gesê die energie wat Morris uitstraal, gaan ’n groot bate wees.

Oor die sybesering wat in ’n stadium soos ’n donker wolk oor hom gehang het, sê Ngidi dit voel nou baie goed en dat hy voluit boul in die nette.

“Ek het baie hulp van die Titans se fisioterapeute gekry in die tydperk wat ek buite aksie was en ek is hulle baie dank verskuldig,” sê hy.

Ngidi en Morris is deel van die sewetal Titans in die Wêreldbeker-groep van 15.

“Dat sewe van ons span die groep gehaal het, spreek boekdele. Daar is ’n wonderlike omgewing geskep (by die Titans) en ons is almal groot vriende en kom baie goed oor die weg,” sê hy.

Lungi Ngidi sê hy boul weer voluit in die nette. Foto: Gallo Images

Die draaibouler Tabraiz Shamsi, wat ook herstel het van ’n rugbesering, erken hy was byna in trane tydens die aankondiging van die Wêreldbeker-groep enkele weke gelede.

Soos al die ander lede van die groep wat na Engeland gaan, moes hy op televisie dophou of hy een van die uitverkorenes is.

“My naam is laaste uitgelees en ek was ’n wrak. Dit was ’n erge ondervinding, wat toe darem ’n gelukkige einde gehad het,” sê hy.

“Deur net die Wêreldbeker-video te sien wat die toernooi adverteer, begin my hande sommer al sweet,” erken hy.

Shamsi het onthul dit is deel van die Suid-Afrikaanse aanslag om sommer vanuit die staanspoor hul stempel op die toernooi af te druk deur die voorste eendagspan ter wêreld en gasheer, Engeland, goed te stamp op 30 Mei.

“Ons steur ons glad nie aan die ranglys nie en dat Engeland die gunsteling is, skeel ons min.

“Ons wil die toernooi sommer al in daardie eerste wedstryd skud en mense laat regop sit deur Engeland ’n drag slae te gee,” sê Shamsi, iemand wat nie skroom om kolwers met sy raspertong die stryd aan te sê nie.

Tabraiz Shamsi sê die Proteas wil die WB-toernooi met ’n knal begin deur met die gasheerland, Engeland, af te reken in die openingswedstryd. Foto: Gallo Images