’n Reuse-knoop glip oor die beste bybreekbouler van alle tye se lippe terwyl hy sy weg by Old Trafford in Manchester van die veld na die kommentaar-hokkie probeer oopveg. 

Hy stoei deur ’n see van Indiese krieketondersteuners wat sy naam soos ’n kreet skree: “Shane Warne, Shane Warne, Shane Warne!” en hom dan oorrompel vir ’n selfie.

Indië is hier. Krieket se mees fanatiese ondersteuners het hier teen die einde nuwe lewe in die Wêreldbeker (WB)-toernooi kom blaas.

Die reëngode het hulle Dinsdag daarvan weerhou om hul span te sien wen in die WB-halfeindstryd teen Nieu-Seeland. 

Hulle kan Woensdag terugkom om die res van die wedstryd te sien. Daar is reserwedae vir die uitspeelstryde. 

Die reëls bepaal dat die wedstryd nie van vooraf sal begin nie, maar sal voortgaan waar dit opgehou het. 

Die Kiwi’s se Ross Taylor (67*, 85 balle) en Tom Latham (3*, 4 b) sal Woensdag dus met hul span se telling op 211/5 ná 46.1 boulbeurte voortkolf. 

Dis ’n wedstrydsituasie wat Indië se ondersteuners baie tevrede sal hê, veral nadat Nieu-Seeland die loot gewen het. 

Bhuvneshwar Kumar (1/30 in 8.1 boulbeurte) en die briljante Jasprit Bumrah (1/25 in agt bbe.) het die Kiwi’s van meet af met dodelike akkuraatheid op ’n moeilike kolfblad vasgepen. 

Nieu-Seeland kon in die kragspel slegs 27/1 saamskraap. Was dit nie danksy Taylor en die kaptein, Kane Williamson (67, 95 b), nie, was die Kiwi’s nou nog verder in die knyp. 

Indië
Manchester was Dinsdag soos New Delhi. Foto: Getty Images

Ondanks die slakkepas waarteen die Kiwi’s voortgeveg het, was die paviljoene ’n byenes van opgewonde Indiërs voor die reën begin neergiet het.

“Rishabh, Rishabh!” het die mense geskree wanneer Rishabh Pant voor hulle kom veldwerk doen het.

En dan weer “Hardik, Hardik!” vir die veelsydige Hardik Pandya. 

Daar was boonop pandemonium toe die legendariese oud-kolwer, Sachin Tendulkar, vinnig te voorskyn gekom het bo in een van die paviljoene. 

“Sachin, Sachin, Sachin!” het die skare geskreeu. Dit blyk algemene praktyk vir Indiese ondersteuners te wees om bloot ’n bekende se naam herhaaldelik te skree. Asof dit ’n teken van respek is. 

Die klein maestro Tendulkar het wel die skare se eerbetoon grasieus met ’n bykans koninklike wuif van sy hand erken. 

Virat Kohli
Indië se Virat Kohli (middel), Dinesh Karthik (links) en Hardik Pandya vier ’n paaltjie. Foto: Getty Images

Indië is verslaaf aan krieket. En dit help die ondersteuners natuurlik ook dat die span gesag op die veld afdwing.

Die Indiese span lyk gevaarlik, gefokus. Gedissiplineerd. 

Nieu-Seeland het goeie boulers en hulle het boonop lopies op die bord, maar Indië behoort nie té veel te skrik vir ’n telling van om en by 250 nie. Nie eers op ’n stadige kolfblad nie.

Hulle lyk gerat om minstens nog tot Sondag in Engeland te bly. 

Vir die eindstryd kan Lord’s dan ook, soos Old Trafford Dinsdag, vir ’n dag lank New Delhi wees.

Telkaart