Waar was dié vryheid en vreesloosheid in jul vorige wedstryde, toe dit saak gemaak het, Proteas?

Vergeet ’n oomblik die feit dat Suid-Afrika se sege met nege paaltjies Vrydag op die Riverside-krieketveld in Chester-le-Street teen die louwarm Sri Lanka gekom het.

Dit was die gemak waarmee hulle gewen het, die goeie krieket wat hulle opgedis het wat ondersteuners moedeloos sal laat.

Want waarom nóú eers sulke krieket begin speel, wanneer daar boggerôl behalwe eer op die spel is?

Faf du Plessis (96*, 103 balle) se kolf was rooiwarm en selfs Hashim Amla (80*, 105 b), wat tot voor dié wedstryd al hinkepink en stotterend 123 lopies in sewe beurte saamgeskrop het, het soos ’n miljoen pond gelyk.

Hul vennootskap van 175* het die Proteas tot Sri Lanka se beskeie teiken van 204 gedra. Dié bestemming het hulle gerieflik met 76 balle in die spaarbank bereik.

’n Skitterende vennootskap tussen Hashim Amla en Faf du Plessis het die Proteas Vrydag in Chester-le-Street tot ’n sege oor Sri Lanka gedra. Foto: Reuters

Met geen druk op hulle nie was dit ’n wedstryd propvol “bestes” vir die Proteas. Dié vennootskap was hul beste van die toernooi.

Die kaptein en die Bebaarde Kryger het ook die eerste Protea-kolwers geword wat ’n telling beter as 68 aanteken. Amla is wel, met sy telling ironies genoeg op 68, been voor paaltjie uitgegee. Die beslissing is verwys en omgekeer.

Amla sou die stadige spoed waarteen die Sri Lankaanse naatboulers boul meer geniet het as van die meer geniepsige aflewerings wat hy van al die ander spanne buiten Afganistan moes trotseer.

Vrydag se speeltoestande is ook in kolwershemel geskape.

Maar hy was nietemin sy meesterlike ou self. Daar was kaphoue en trekhoue, maar die hoogtepunt was ’n sweepslag-dryfhou verby middebaan wat hy vroeg in sy beurt van Lasith Malinga (1/47 in tien bbe.) se boulwerk gespeel het.

Sri Lanka is g’n sterbelaaide span nie, maar hy het net ’n week gelede met die gasheer en gunsteling, Engeland, afgereken. Ook toe moes die eilandspan ’n beskeie teiken, 233, verdedig. Die jaagtog het Engeland verwurg. Maar nie die Proteas nie.

Met die bal was dit die uitgehongerde Dwaine Pretorius, wat in die eerste wedstryd teen Engeland laas gespeel het, wat gewys het hoe trots en veggees lyk.

Met die bal was dit die uitgehongerde Dwaine Pretorius, wat in die eerste wedstryd teen Engeland laas gespeel het, wat gewys het hoe trots en veggees lyk.

Twee uur voor spel begin het, het hy saam met die kolfafrigter, Dale Benkenstein, in die nette agter die veld geslyp en sodoende die kroon gespan op ’n ganse week van intense voorbereiding.

Sy ywer het vinnig gewys toe sy kaptein die bal in sy rigting gooi nadat Sri Lanka ’n dreigende vennootskap om die tweede paaltjie begin bou het. Dít nadat Du Plessis die loot gewen en besluit het om op ’n kolwersvriendelike blad eerste te boul.

Dwaine Pretorius vier een van sy drie paaltjies teen Sri Lanka. Foto: Reuters

Pretorius het die deurbraak gemaak deur Avishka Fernando (30, 29 balle) uit te kry en ’n mens kon in sy breë glimlag lees wat sy eerste WB-paaltjie vir hom beteken. Dit het Sri Lanka se vuur geblus. Hy het met syfers van 3/25 in 10 beurte geëindig – die mees ekonomiese tien-beurt-boulskof by die ganse WB. Hy is as die Speler van die Wedstryd aangewys.

Sake het van die eerste bal reeds reg verloop vir die Proteas toe Kagiso Rabada die Sri Lankaanse kaptein, Dimuth Karunaratne, uitgekry het.

Fernando en die Verwoester van Durban, Kusal Perera (30, 34 b), het Rabada en Chris Morris (3/46 in 9.3 bbe.) daarna vir ongedissiplineerde boulwerk gestraf, maar nadat Perera uit is, is die brieke aangedraai.

Sri Lanka het ’n paar laerordelopies uitgewurg, maar hulle het bra futloos voorgekom vir ’n span wie se WB-hoop nog springlewend was. Daardie hoop is nou in die waakeenheid.

Nes Amla, het Rabada (2/36 in tien beurte) sy beste syfers van die toernooi in die onbenulligste van wedstryde behaal.

Dit was nie juis die opwindende eerste wedstryd waarvoor die mense van dié geweste by die Riverside-veld gewag het nie.

In die doodsnikbeurte van Sri Lanka se kolfbeurt het dit nie sesse gereën nie, hoewel ’n swerm bye darem ’n bietjie vermaak verskaf het.

In die doodsnikbeurte van Sri Lanka se kolfbeurt het dit nie sesse gereën nie, hoewel ’n swerm bye darem ’n bietjie vermaak verskaf het.

Die spelers moes weer, nes in 2017 op die Wanderers in ’n eendagstryd tussen dié spanne, plat op die grond lê totdat die insekte vort is.

Vir die Proteas is dié uitslag ’n mengsel van heuning en asyn. Soet, want dit was ’n vyfstervertoning. Bitter, want dit is twee wedstryde te laat.

Suid-Afrika se laaste wedstryd is volgende Saterdag teen Australië in Manchester.