Die immergroen Imran Tahir wou nog altyd wegstap van internasionale eendagkrieket terwyl hy op die kruin is.

Saterdag in die Proteas se Wêreldbeker-oorwinning oor Afganistan in Cardiff, het hy gewys hy is steeds een van die belangrikste ratte in die Protea-masjien. Hy is as die Speler van die Wedstryd aangewys nadat hy Afganistan se kolflys met syfers van 4/27 in sewe beurte oopgekloof het.

Imran Tahir sit op loop nadat hy Noor Ali Zadran skoongeboul het. Foto: Reuters

Tahir gaan gewis ’n reuse-leemte in die Protea-eendagspan laat wanneer hy ná die skouspel in Engeland en Wallis uit dié weergawe van die internasionale spel tree. Hy verkies dit egter om weg te stap terwyl hy nog gemis gaan word, liewer as wat ondersteuners sy kop begin eis.

“Dit was vir my belangrik. Ek het my hele loopbaan lank reeds geweet ek wil uittree terwyl ek nog goed speel,” sê die 40-jarige Tahir, wat die oudste speler by vanjaar se toernooi is.

“Ek wou nog altyd met die respek van my kollegas wegstap. Daar is jonger draaiers in die land wat ’n geleentheid moet kry. Ek sou dalk nog vir ’n jaar of twee kon speel, maar ek kyk na ander draaiers wat nóg langer as ek vir Suid-Afrika gaan speel.”

Hy is darem nie heeltemal vir Suid-Afrikaanse krieket verlore nie.

“Ek sal steeds baie graag steeds T20-krieket vir Suid-Afrika wil speel, maar ek aanvaar niks as vanselfsprekend nie. Ek benader elke wedstryd asof dit my laaste een vir Suid-Afrika is.”

Saterdag het hy gewys dat hy ’n groot wapen by volgende jaar se T20-Wêreldtoernooi in Australië kan wees. Die Afgane het gesukkel om sy goëlbal – die aflewering wat in die teenoorgestelde rigting as ’n normale bybreker draai – te lees. Só het hy ’n paaltjie gekry met sy heel eerste aflewering, toe Noor Ali Zadran ’n bal heeltemal misgis het en skoongeboul is.

“Ek dink daar was al ’n paar kolwers in my loopbaan wat nie my goëlbal gelees het nie,” sê Tahir met ’n glimlag.

“Die blad het nie veel gedraai nie, so dan geniet ek dit om goëlballe te boul. As daar draai in die blad is, sal ek meer gewone bybrekers kan boul. Die reguit grense op dié veld was ook kort, so ek het geoefen om kolwers uit te lok om my sywaarts, liewer as reguit, te speel.

“Afganistan het wel vir Rashid Khan, wat waarskynlik die beste goëlbal in wêreldkrieket kan boul. Daarom was ek dalk ’n bietjie verbaas oor hoe hulle teen my gespeel het.”

Faf du Plessis, Protea-kaptein, het ’n lansie vir sy betroubare bybreker se vertoning teen Afganistan gebreek.

“Imran was weer spesiaal soos altyd, maar veral vandag op ’n blad wat draaiboulwerk nie goedgesind is nie, op ’n veld met baie kort reguit grense, het hy skitterend geboul om vier paaltjies te vat.”