’n Treinstasie in die Engelse stad Birmingham. Foto: Tinus van Staden

Saterdag, 29 Junie 2019

Die lang man met die dik aksent waaraan Protea-ondersteuners so gewoond geraak het oor die laaste twee jaar, stap na my waar ek sit en wag op ’n perron by een van die treinstasies in Durham.

Dié stasie is ’n maalkolk van jolige jong mans en vroue in deftige klere, wat loop en gesels en aan jenewer-drankies teug. Dit is die warmste Saterdag van die Engelse somer tot dusver. Daar is perdewedrenne in Newcastle aan die gang en die mense van die studentedorpie Durham is uitgevat om te gaan kyk (Newcastle is so 30 km van Durham).

Daar is perdewedrenne in Newcastle aan die gang en die mense van die studentedorpie Durham is uitgevat om te gaan kyk.

Die Proteas het die vorige dag uiteindelik ’n goeie vertoning gelewer en Sri Lanka met nege paaltjies geklop in Chester-le-Street, ’n gesellige dorpie so tien minute se ry van Durham af. Van hier af is dit Manchester toe vir Suid-Afrika se laaste Wêreldbeker-wedstryd, Saterdag teen Australië op Old Trafford.

Maar dít sou min doen om die man wat na my aangestap kom, se gemoed ’n noemenswaardige hupstoot te gee. Ottis Gibson, die Protea-afrigter, groet en knoop ’n geselsie aan. Hy is saam met sy vrou op pad Londen toe.

Gibson, oorspronklik van Barbados, woon die laaste twee dekades in Engeland. Hy het dus “huis toe” gekom vir die Wêreldbeker-toernooi. Die laaste maand het sy tol geëis, want die span was power verby. Maar hy en die Proteas het nou so vier dae af. Daarna gaan hulle weer in Manchester ontmoet.

Die Protea-afrigter groet vriendelik en klim saam met die opgewonde skare op die trein. Op hierdie Saterdag maak dit nie saak dat hy die Protea-afrigter is nie. Hy is ’n doodgewone reisiger soos almal anders, net minder opgedollie as sy reisgenote. Ook minder uitbundig, maar opsigtelik dankbaar vir ’n Wêreldbeker-wegbreek.

Prins William (naasregs) en sy vrou, Catherine, op ’n besoek aan die Nasionale Sokkermuseum in Manchester. Foto: Getty Images

Sondag, 30 Junie 2019

Van die ander lede van die spanbestuur is Ierland toe vir die ruskans. Sommige van die ander joernaliste op toer het Skotland gaan besoek.

’n Paar van ons het egter besluit om direk na Manchester te reis – die industriële hartklop van Engeland. Die stad waar sokker só groot is dat die Nasionale Sokkermuseum daar gesetel is. Dit is ’n reusagtige glasgebou in die middel van die stad.

Ons het die vorige aand deur die strate gewandel om te sien hoe Manchester se naglewe is. Dit is ’n besige stad op ’n Saterdagaand, maar op ’n Sondag gaan daar maar min hier aan.

In Birmingham is dit egter ’n besige Sondag – want die belangrikste wedstryd van die Wêreldbeker-toernooi tot dusver, Engeland se kragmeting met Indië, word daar gespeel. Met dié dat die Proteas reeds uit die wedloop is, gee ons Suid-Afrikaners mos nie regtig om wie die toernooi wen nie.

Met dié dat die Proteas reeds uit die wedloop is, gee ons Suid-Afrikaners mos nie regtig om wie die toernooi wen nie. Al waaroor ons omgee, is dat Engeland nié wen nie.

Al waaroor ons omgee, is dat Engeland nié wen nie. As Indië die Engelse sou klop, sou die Pommies uit die wedloop gewees het. Dus besluit ons joernaliste om die wedstryd in ’n eetplek, Footage, te gaan kyk. Die eetplek is enorm en reg oorkant een van die universiteite.

Dit is in ’n ou fliekteater geleë en daar is tafeltennisblaaie, potspeltafels, arkadespeletjies, grootskerms met die krieket . . . maar die plek is dolleeg.

Die Engelse, veral in Manchester wil dit voorkom, gee nie juis veel om oor krieket nie.

Indië het ons boonop in die steek gelaat, maar Footage het wel een laaste groot verrassing ingehou: Dit is een van die min Engelse eetplekke wat kos bedien wat darem na iets smaak!