Rohit Sharma het Sondag sy tweede honderdtal in drie kolfbeurte aangeteken om Indië se krieketspan te help om Pakistan in sy Wêreldbekerwedstryd by Old Trafford in Manchester, Engeland, met 89 lopies volgens die Duckworth/Lewis-metode te klop.

Rohit Sharma het ’n skitterende kolfvertoning vir Indië teen Pakistan gelewer. Foto: Getty Images

Hoewel reën ’n groot rol in die uitslag gespeel het, was die kans in elk geval skraal dat Pakistan sou gewen.

Pakistan moes 136 lopies van 30 balle af aanteken om te wen ná die reën die wedstryd onderbreek het en het eindelik op 212/6 klaargemaak.

Voor die reën neergesif het, was Pakistan reeds op 166/6 in die 35ste boulbeurt in die moeilikheid.

Indië het eerste gekolf en het 336/5 aangeteken met Sharma wat 140 lopies van 113 balle af gemoker het.

Hy is goed bygestaan deur sy kaptein, Virat Kohli, wat 77 lopies gekry het.

Kohli het met dié kolfbeurt die kolwer geword wat die vinnigste nog 11 000 lopies in internasionale eendagkrieket kon aanteken.

Hy het dié mylpaal in 222 kolfbeurte behaal. Sy landgenoot Sachin Tendulkar het eers dié rekord gehou, maar dit het Tendulkar 276 kolfbeurte geneem om daarby uit te kom.

Mohammad Amir het die beste van Pakistan se boulers gevaar met 3/47.

Fakhar Zaman (62) en Babar Azam (48) het vir Pakistan vroeg in die beurt goed gekolf. – Sportredaksie en Reuters