Dit wil al hoe meer voorkom asof Indië agter die skerms toutjies kon trek om bevoordeel te word in die Wêreldbeker-kriekettoernooi.

Dié span het ’n vrypas vroeg in die toernooi gehad om tot verhaal te kom ná die vermoeiende Indiese Premierliga (IPL).

Dr. Mohammad Moosajee, die spanbestuurder van Suid-Afrika se krieketspan, het Maandag by die O.R. Tambo-lughawe gesê op die oorspronklike skedule wat 18 maande gelede uitgereik is, sou Suid-Afrika sy tweede wedstryd van die toernooi teen Indië gespeel het.

“Ons het toe later verneem ons speel nou ons tweede wedstryd teen Bangladesj en daarna eers teen Indië. Daar was toe nie genoeg tyd om beswaar te maak voordat die bepalings afgehandel is nie,” sê hy.

Ons selfvertroue het ’n kwaai terugslag beleef in daardie eerste deel van die toernooi en ons kon nie een keer met ons sterkste span speel nie.

Ottis Gibson, die Protea-afrigter, het die feit bekla dat Suid-Afrika die enigste span was wat drie wedstryde in die eerste week moes speel. Dít was kragmetings met Engeland, Bangladesj en toe Indië.

Daardie wedstryd teen Indië was die eerste keer wat Indië in die toernooi in aksie was en hulle het goed kans gekry om behoorlik uit te rus ná hul IPL-toernooi.

“Ons selfvertroue het ’n kwaai terugslag beleef in daardie eerste deel van die toernooi en ons kon nie een keer met ons sterkste span speel nie,” het Gibson gesê.

Moosajee reken dat 12 van die 15 spelers wat aanvanklik gekies is by een of ander geleentheid siek of beseer was.

“Dit was ongekend hoe dinge ons getref het. Ons kon regtig nooit ’n span in die veld stoot wat ons vooraf sou wou nie en dit het ons kwaai seergemaak,” sê hy.

Al het die Suid-Afrikaners dit nie prontuit gesê dat hulle voel Indië trek die toutjies met van hierdie toernooie van die Internasionale Krieketraad (IKR) nie, het hulle dit laat deurskemer dat dié land sake kan manipuleer soos dit hom pas.

Gibson reken al het Suid-Afrika gesukkel, was die span-atmosfeer vir hom steeds baie goed.

“Daar was nie ’n rugstekery nie en die ouens het ook nie in hul kamers gaan sit en tob nie. Ek glo ons het geestelik sterk gestaan,” reken hy.

Nortjé moes ons Jofra Archer (Engelse snelbouler) gewees het met sy vaart. Ons het dit kwaai gemis.

Hy glo ook Aiden Markram gaan nog ’n baie goeie speler vir sy land word.

“Hy teken van die beste 30-talle aan waaraan jy kan dink, maar ek het vir hom gesê sy 30’s van wêreldgehalte moet nou groter beurte word,” sê Gibson.

Linda Zondi, die sameroeper van die keurkomitee, het gesê die verlies van Anrich Nortjé en Dale Steyn was ’n groot terugslag.

“Nortjé moes ons Jofra Archer (Engelse snelbouler) gewees het met sy vaart. Ons het dit kwaai gemis,” reken Gibson.

Hy voel ook die kolfafrigter, Dale Benkenstein, het ’n fantastiese taak verrig en dat hy nie blameer kan word dat die kolwers nie hul kant gebring het nie,” sê hy.

Op die vraag aan Gibson of hy vooraf die ultimatum gestel is deur Krieket Suid-Afrika (KSA) dat hy sy werk sou verloor indien hy nie die toernooi wen nie, het hy lank geaarsel voordat hy gesê hy onthou regtig nie mooi wat in daardie gesprek gesê is en of dit wel so gestel is nie.