Die Aussie-kaptein, Aaron Finch, het Woensdag, op die vooraand van hul Wêreldbeker (WB)-halfeindstryd teen Engeland Donderdag op Edgbaston, ’n animasie-rolprent gaan kyk.

“The Queen’s Corgi” kom vandag uit, so ek dink ek en my vrou sal dit gaan kyk,” het Finch Woensdag tot die groot vermaak van die joernaliste by sy nuuskonferensie gesê.

“Wat is fout daarmee?” wou hy ná ’n gelag weet.

Finch wou dit duidelik stel dat sy spelers nie moet sit en bykomende druk op hulself laai nie. Hulle moet ontspanne wees.

Maar nadat Nieu-Seeland ’n skokoorwinning in die ander halfeindstryd teen Indië behaal het, ís daar druk.

Die wedstryd op Edgbaston is nou ’n amperse eindstryd. Hoe goed Nieu-Seeland ook al is, die Aussies en Engelse sal albei verkies om liewer teen die Kiwi’s as Indië in die eindstryd Sondag op Lord’s te speel.

Nietemin wil nie een van die twee spanne te ver vooruit dink, of meer spanning skep as wat nodig is nie.

“Ek sal ontsteld wees as iemand iets buitengewoon gaan doen (voor die halfeindstryd),” sê Eoin Morgan, die Engelse kaptein.

“Party ouens sal Xbox speel, party sal gaan gholf speel, party sal gaan fliek. Almal sal doen wat hulle normaalweg doen.”

Australië het die spanne se groepfase-ontmoeting op 25 Junie op Lord’s gerieflik met 64 lopies gewen.

Finch sê die span put baie selfvertroue uit daardie uitslag.

Ons het baie meer selfvertroue as drie wedstryde gelede. Ons is ’n ander span as toe. - EOIN MORGAN

“Nou het hulle (Engeland) wel vir Jason Roy terug om die beurt weer te begin in James Vince se plek,” sê Finch.

“Maar die wyse waarop ons teen hulle gespeel het in daardie wedstryd en in die opwarmwedstryd in Southampton, was baie goed.”

Eoin Morgan, die Engelse krieketkaptein, in ligte luim by die span se oefening Woensdag in Birmingham. Foto: Getty Images

Morgan sê in hul WB-rondomtaliewedstryd het Engeland nog ’n babalaas gehad van hul skoknederlaag teen Sri Lanka, wat hy steeds as ’n groot laagtepunt van hul toernooi bestempel.

Die nederlaag teen die Aussies het die Engelse amper uit die toernooi geboender, maar twee skitterende seges oor Indië en Nieu-Seeland het hulle terug op koers geplaas.

“Ons het baie meer selfvertroue as drie wedstryde gelede. Ons is ’n ander span as toe,” sê Morgan.

“Ná daardie wedstryd het ons die tipe krieket gespeel wat ons die laaste vier jaar opgedis het.”

Wat nuus oor die elftalle betref, het Justin Langer, die Aussies se afrigter, reeds bevestig dat Peter Handscomb sal speel.

Handscomb is as ’n plaasvervanger vir die beseerde Usman Khawaja opgeroep.

“Hy verdien dit, hy was baie ongelukkig om nie in die aanvanklike groep te wees nie,” sê Langer.

Handscomb is oor die hoof gesien toe die balpeuteraars, David Warner en Steve Smith, hul terugkeer tot internasionale krieket gemaak het.

Langer het ook bevestig die veelsydige Marcus Stoinis is fiks. Daar is nog ’n vraagteken oor Glenn Maxwell se beskikbaarheid, maar die kans is goed dat hy sal speel. Indien nie, sal die ervare paaltjiewagter, Matt Wade, as ’n kolwer ingespan word.

Wade was nie deel van die oorspronklike groep nie.

Morgan het bevestig hy het ’n fikse groep om uit te kies.

Begintyd: 11:30 (SA tyd, regstreeks op SS 2).