Die Proteas het die afgelope week die Indiese Premierliga geblameer vir Kagiso Rabada se krieketmoegheid. Miskien moet hulle eers voor hul eie deur vee, skryf Leighton Koopman.

Toe Kagiso Rabada vroeër vanjaar gesê het hy funksioneer teen 60%, moes die rooi ligte oor die Proteas se beste bouler reeds begin flikker het.

’n Paar maande voor die Wêreldbeker-kriekettoernooi het die snelboulsensasie vir die eerste keer sedert hy sy debuut in 2016 gemaak het, gesê hy voel moeg.

Voor dit het hy geboul, paaltjies platgetrek en nogmaals geboul.

Die 265 boulbeurte die afgelope ses maande (in slegs internasionale wedstryde ná afloop van die WB-stryd teen Sri Lanka) wys hoe baie hy geboul het. En dit sluit nie eens sy skofte in vanjaar se Indiese Premierliga (IPL) in nie.

Dié statistiek laat die vraag ontstaan: Moes Ottis Gibson, die Proteas-breier, nie lankal vir Rabada ’n behoorlike ruskans gegee het nie?

Die argument kan aangevoer word dat hy die span se beste bouler is en hulle hom dus nodig het, maar is dit nie juis spesiale spelers wat jy, veral voor ’n groot toernooi soos die Wêreldbeker, in watte moet toedraai nie?

Michael Holding, die legendariese Windies-snelbouler, het immers al in 2017 gewaarsku dat die Proteas hom nie moet ooreis met boulwerk nie.

Verlede jaar het Rabada nie in die IPL gespeel nie. Vanjaar was hy daar, en dis verstaanbaar.

Kagiso Rabada
Kagiso Rabada het die afgelope 12 maande in 36 internasionale wedstryde gespeel (toetse, eendag en T20). Die top-snelboulers by Wêreldbeker 2019 het almal in veel minder wedstryde gespeel. (Jofra Archer, wat nog nuut op die internasionale toneel is, is buite rekening gelaat.)

Die vraag is eerder waarom hy nie voor en weer ná die IPL gerus is nie.

Plaaslike joernaliste het verlede jaar en weer vanjaar op die Proteas se mediakonferensies gereeld die vraag gevra: Wanneer rus Kagiso?

Niemand, nie eens die afrigter, het werklik ’n reguit antwoord daarop gegee nie.

’n Stelling deur Gibson dat hy vroeër vanjaar, met die oog op die Wêreldbeker, Kagiso (KG) teen Sri Lanka sou rus, het ook ’n muis gebaar.

“KG is maar op 60%, maar hy boul teen 145, so ek wonder maar net wat sy spoed kan wees as hy teen 100% funksioneer. Maar ons gaan kyk om KG vir seker te laat rus,” het Gibson in Januarie vanjaar gesê.

Van daardie rus het min gekom en die gebakte pere is dat Rabada tans in die Wêreldbeker so moeg soos ’n straatbrak lyk.

Gewoonlik kom spelers wat hul moegheid wegsteek met die “ek voel reg en sal enigiets vir die span doen”-antwoord vorendag wanneer hulle uitgevra word oor hul gereedheid.

Maar as ’n speler eers sê hy voel nie 100% nie, moet jy besef hier sal brieke aangeslaan moet word.

Tog het Gibson-hulle nie ag daarop geslaan nie en Rabada laat aanhou boul.

Hy het in al twee verloor-toetse teen Sri Lanka, vier van die vyf kitswedstryde (wat Suid-Afrika met 5-0 gewen het) en een T20-wedstryd gespeel.

Rabada kon dus al ná die derde kitswedstryd vroeë verlof gegun word om behoorlik te gaan rus voor die IPL en die Wêreldbeker.

Maar nee, daar is besluit hy moes nog speel en nou is die uiteinde ’n angellose Rabada, wat lyk of hy steeds op 60% funksioneer.

Kagiso Rabada het die afgelope 12 maande in 36 internasionale wedstryde gespeel (toetse, eendag en T20). Die top-snelboulers by Wêreldbeker 2019 het almal in veel minder wedstryde gespeel. (Jofra Archer, wat nog nuut op die internasionale toneel is, is buite rekening gelaat.)