Ray Jennings, eertydse afrigter van die Proteas, glo die spankeuse vir die Wêreldbeker (WB)-toernooi was swak en dat die keurders nie hul huiswerk gedoen het nie.

Dié paaltjiewagter van Transvaal se “Mean Machine” in die 1980’s, is om kommentaar genader nadat Suid-Afrika Woensdag aan sy vierde nederlaag in vanjaar se WB-toernooi gely het. Nieu-Seeland het hom met vier paaltjies verslaan.

Ray Jennings hou Krieket Suid-Afrika verantwoordelik vir die Proteas se flou vertonings in die WB-toernooi.Foto: Gallo Images

Jennings is ook van mening dit is die grootste onsin dat AB de Villiers net 24 uur voor die span bekend gemaak is, die keurders sou inlig dat hy beskikbaar is.

“AB is die mees opregte mens en is glad nie selfsugtig as speler nie. Ek sal my lewe daarop sit dat dit ’n wolhaarstorie is dat hy gewag het tot net 24 uur voor hulle die span sou aankondig om te sê hy is beskikbaar. Dit is snert.

“Ek sal so iets van ’n arrogante Kevin Pietersen en Graeme Smith verwag, maar beslis nie van AB nie. Ek ken hom net te goed om eens te kan dink hy sal so iets doen. Daar is ’n ander storie hier agter die skerms wat vertel moet word,” reken Jennings.

Volgens Jennings het daar ook net te veel spelers weens die politiek van Krieket Suid-Afrika (KSA) verlore gegaan soos juis De Villiers, asook al die Kolpak-spelers wat net besluit het genoeg is genoeg en dat hulle nie meer opgeskeep wou sit met die politiek in SA krieket wat hoogty vier nie. Hier noem hy die name van spelers soos Duanne Olivier, Kyle Abbott en Morné Morkel.

“Dit is almal spelers van gehalte wat in hierdie Wêreldbeker-groep moes wees, maar wat net ’n versadigingspunt bereik het en hul goed gevat en geloop het.

“Ek kan nie glo dat die keurders uiteindelik spelers soos Hashim Amla, JP Duminy, Dale Steyn en Anrich Nortjé in hul aanvanklike groep gekies het nie. Steyn kon nie eens agt beurte in die hele Indiese Premierliga boul nie en hulle kies hom. Dit wys jou net hulle het nie hul huiswerk vooraf goed genoeg gedoen nie,” sê hy.

"As hulle twee nie lopies kry nie, kan ons nie wedstryde wen nie." - Ray Jennings

Jennings reken ook dat Lungi Ngidi nie fiks genoeg was om Woensdag teen Nieu-Seeland te speel nie.

“Jy kon duidelik sien hy sit nie alles in en boul met oorgawe en geesdrif nie. Hy kon nie sy deurloop met alles in hom doen nie. Gelukkig vir hom het sy stadiger bal gewerk, maar hy moes nie gespeel het nie. Hy was nie reg nie,” sê Jennings.

Ray Jennings glo nie dis waar dat AB de Villiers eers kort voor die Wêreldbeker-spanaankondiging gesê het hy is beskikbaar om gekies te word nie. Foto: Gallo Images

Volgens hom was dit ook gekheid dat daar ’n pistool teen die afrigter, Ottis Gibson, se kop gehou is met die dreigement dat hy die eindstryd moet haal om sy pos te behou.

“Dit is belaglik. Jy kan die beste span by die toernooi wees en dan nie eens die eindstryd haal nie met wedstryde wat uitreën en wat ook al. Daar is dus reeds vooraf soveel onnodige druk op die afrigter geplaas.

“Dit is net onmenslik om hom as afrigter te kontrakteer en dan van hom te verwag hy moet die eindstryd haal en die toernooi wen. Dit was ’n groot fout deur KSA,” sê Jennings, wat in 2014 die eerste afrigter (en tans steeds enigste) geword het wat ’n WB-krieketbeker vir Suid-Afrika verower het met die nasionale o.19-span.

Wat die kolfwerk by die toernooi betref, sê Jennings daar word te veel op die kaptein, Faf du Plessis, en Quinton de Kock, staatgemaak.

“As hulle twee nie lopies kry nie, kan ons nie wedstryde wen nie. Vir my is Rassie van der Dussen ietwat van ’n selfsugtige kolwer,” het hy hom uitgelaat oor een van die enigste staatmakers tot dusver in die SA kolflys.

Jennings is van mening dat die boulaanval ook net op Kagiso Rabada en Imran Tahir staatmaak.

Hy is steeds as afrigter betrokke by sy eie krieketakademie en fokus grootliks op afrigting op skolevlak, maar voel dat die politiek in skolekrieket baie kommerwekkend is.

“Die goeie spelers wyk uit oorsee en ons sit uiteindelik met die bloot gemiddelde spelers wat nie opgewasse daarvoor is om internasionaal te speel nie,” glo hy.