Dis sommer bog, sê Ray Jennings, dat AB de Villiers tot 24 uur voor die aankondiging van die Wêreldbeker-groep gewag het om Faf du Plessis en Ottis Gibson mee te deel dat hy beskikbaar is om saam na Engeland te reis.

Jennings, ’n voormalige Protea-afrigter, het dié verklaring vandeesweek met die grootste oortuiging gemaak toe hy deur die Afrikaanse dagblaaie om kommentaar genader is oor die Proteas se WB-gesukkel.

Tinus van Staden

“Dit is sommer snert. Ek ken hom net te goed om te dink hy sal so iets doen. Daar is ’n ander storie hier agter die skerms wat vertel moet word,” het Jennings gesê.

Dit blyk dus hy het geen bykomende inligting nie. Hy het summier besluit dit is nie in De Villiers se aard nie.

Jennings se verklaring is ’n verdagmaking van Du Plessis en Gibson se integriteit. Net omdat hy nie dink De Villiers sou so iets doen nie.

Dít terwyl nie eens die De Villiers-kamp ontken hy het ’n dag voor die tyd uitgereik nie.

Waar ek dit vir Jennings gelyk sal gee, is dat daar veel meer vleis aan dié been is.

De Villiers het sy uittrede uit internasionale krieket in Mei 2018 bekend gemaak, ’n jaar voor die WB-toernooi begin het.

Moontlik het De Villiers toe reeds in die fynskrif ingewerk – “As julle my nodig het vir die WB, skree net . . .”

Die Proteas het aanbeweeg, gevoel hulle het hom nie nodig nie. Hulle het gesoek en in Rassie van der Dussen ’n nuwe middelordeman gevind. Toegegee – nie iemand wat ooit De Villiers se skoene kan volstaan nie, maar wie sal ooit dít kan doen?

Die Proteas het De Villiers verlede jaar probeer oorreed om homself beskikbaar te maak vir die reekse teen Pakistan en Sri Lanka. Hy het besluit om dít nie te doen nie – ondanks die moontlike vroeër genoemde fynskrif.

Kon hy toe 24 uur voor die aankondiging aan fomo (fear of missing out) begin ly, sy foon optel en sê “Hei, Faf, ou pêl, onthou wat ek destyds gesê het?” Dit is moontlik wat gebeur het.

Vir Jennings om summier te sê die De Villiers wat hy ken, sal “nooit só iets doen nie”, is verregaande en arrogant. Die volle waarheid het nog nie uitgekom nie en De Villiers sal hopelik ná die WB sy kant van die saak stel.

Maar dat hy dit 24 uur voor die spanaankondiging uitgereik het, is ’n feit.

Waar Jennings die pot ook mis sit, is om politiek die skuld te gee vir die Proteas se WB-misoes.

In die plofbare omgewing waarin Suid-Afrikaanse sportondersteuners hul, meestal oningeligte, menings lug, het die kwota-kruitvat beswaarlik ’n vonkie nodig om te ontplof. En wanneer iemand met Jennings se aansien sê politiek het spelers soos Kyle Abbott, Morné Morkel en Du­anne Olivier uit die land gejaag, hardloop hy met ’n blaasvlam rond.

Morkel het uitgetree ná ’n roemryke loopbaan op die internasionale verhoog, Abbott moes altyd tweede viool agter (wit) boulers soos Dale Steyn en Morkel speel en Olivier het ’n Kolpak geteken op soek na ’n beter lewe.

Dit sal naïef wees om te sê die kwotastelsel het geen invloed gehad op veral laasgenoemde twee se besluite nie. Maar dit is bisar om hulle as verlore redders vir die sukkelende Proteas voor te hou. Is een van hulle beter as Kagiso Rabada of Lungi Ngidi?

Jennings sê ook Van der Dussen is ’n selfsugtige kolwer. Dít terwyl hy die Proteas Woensdag teen Nieu-Seeland in Birmingham manalleen tot ’n verdedigbare totaal op ’n moeilike blad gevoer het.

Die voormalige paaltjiewagter slaan wel die spyker op die kop deur te sê JP Duminy, Dale Steyn en Hashim Amla moes nooit in die groep gewees het nie.

Die probleem met dié trio is dat hulle ná die vorige WB waarskynlik nog twee, drie goeie jare oorgehad het. Vier was ’n hekkie te hoog.

Ek is dit ook met Jennings eens dat dit onregverdig van Krieket Suid-Afrika was om aan Gibson die ultimatum te stel dat SA die eindstryd móét haal vir enige gesprekke oor ’n kontrakverlenging om plaas te vind. Maar om samesweringsteorieë as die evangelie te versprei – terwyl die nasionale span op sy knieë is – kan ondersteuners se woede onregverdig in die verkeerde rigting dwing.