JP Duminy in aksie vir die Proteas teen Sri Lanka op die Wanderers verlede maand.Foto: Gallo Images

JP Duminy sê hy sal sonder probleme kan kolf en veldwerk doen en ook ’n bydrae met sy boulwerk kan lewer tydens die Wêreldbeker-kriekettoernooi wat aan die einde van volgende maand in Engeland begin.

Duminy het baie vertroue dat sy skouer hom nie sal pla tydens die WB-toernooi nie.

Duminy het die naweek in twee T20-wedstryde vir die Cape Cobras gespeel en speel ook Woensdag in die halfeindronde van die T20-uitdaagreeks teen die Warriors in Oos-Londen.

“Dit voel baie beter,” sê Duminy.

“Dit is nog nie 100% nie, maar ek kan die bal van alle dele van die veld af ingooi as ek veldwerk doen. Dit beïnvloed ook glad nie my kolfwerk nie. Ek kan beslis ook ’n bydrae met die bal lewer.”

Dit is nog nie 100% nie, maar ek kan die bal van alle dele van die veld af ingooi as ek veldwerk doen. Dit beïnvloed ook glad nie my kolfwerk nie.
JP Duminy

Dié veelsydige speler het ’n operasie aan sy regterskouer in Oktober ondergaan, maar sukkel om ten volle te herstel. Duminy het aan die einde van Februarie sy terugkeer gemaak in die plaaslike eendagreeks en toe in die eendag- en T20-reekse teen Sri Lanka gespeel.

Maar hy het die begin van die T20-reeks misgeloop om verdere rehabilitasie te ondergaan.

Hy het probleme ondervind om die bal in te gooi en sy boulaksie het ook gelol.

Die hotklou-kolwer glo hy kan ’n groot bydrae in die WB-toernooi te lewer.

Hashim Amla. Foto: Gallo Images

Dit is goeie nuus vir die nasionale keurders, veral as mens die probleme van sy Cobras-spanmaat Hashim Amla in ag neem.

Dié veteraan het hom onttrek aan die res van die Cobras se seisoen en het sê hy gaan op sy eie vir die WB-toernooi voorberei.

Amla, wat ’n teleurstellende seisoen vir die Proteas beleef, het gehoop om sy beste peil in die T20-reeks te herwin. Maar hy kon slegs 92 lopies in agt beurt teen ’n treftempo van 83.63 aanteken.

Dit is moeilik om jou peil te herwin in T20-krieket waar jy dit nie kan bekostig nie om nie lopies van elke bal af aan te teken nie.

Dalk het Amla ook besluit om uit T20-krieket te tree eerder as om deur Cobras-afrigter, Ashwell Prince, weggelaat te word vir die uitspeelwedstryde.

Duminy sê dit maak nie juis saak nie in watter weergawe jy speel nie, net solank jy goed vaar.

Ek speel dalk vandeesweek in twee wedstryde vir die Cobras en dan het ons twee opwarmwedstryde in Engeland.
JP Duminy

“Ek speel dalk vandeesweek in twee wedstryde vir die Cobras en dan het ons twee opwarmwedstryde in Engeland net voordat die WB-toernooi begin.

“Ek dink (vandeesweek) se twee wedstryde (as die Cobras vir die eindstryd kwalifiseer) kan van groter waarde wees as die twee opwarmwedstryde omdat dit wedstryde gaan wees onder groot druk met baie op die spel.”