Sewe lopies word benodig. Vyf balle bly oor. Andile Phehlukwayo stroom in ... Kane Williamson neem slag.

Op die spel – Suid-Afrika se Wêreldbeker (WB)-hoop. Dit was reeds ’n wedstryd van hoogdrama, dié een op Edgbaston in Birmingham tussen die Proteas en Nieu-Seeland.

Die toeskouers is ’n ieder en ’n elk op die punt van hul stoel. Elektrisiteit is in die lug.

Die bal verlaat Phehlukwayo se hand. Die briljante Williamson sak op sy knie... en hy piets die bal vir ’n ses in die paviljoen in, bereik sy honderdtal en wen die wedstryd vir sy span.

Met dié ongelooflike beurt van 106* (138) voer hy die Kiwi’s tot ’n sege met vier paaltjies. Drie balle was oor.

Chris Morris word deur David Miller, Aiden Markram en Hashim Amla omhels nadat hy Nieu-Seeland se Jimmy Neesham uitgekry het. Foto: Reuters

Dit kon só maklik soveel anders gewees het, want met die een hand het die geluksgodin gegee. Met die ander het sy genadeloos by die Proteas gevat in dié hartverskeurende nederlaag.

Met die Kiwi’s op 173/5 in hul jaagtog van die teiken van 242, moes die Kiwi-kaptein, Williamson, met sy telling op 76, uit gewees het. Hy het buiterand bygekry op Imran Tahir se laaste aflewering van sy tienbeurt-boulskof.

Quinton de Kock het roerloos agter die penne bly staan. So ook die skeidsregter.

Birmingham het sodoende die begraafplaas van nóg ’n Protea-WB-veldtog geword. Suid-Afrika het nog ’n skrale wiskundige kans om tot die halfeindronde deur te dring. Maar daardie kans is só gering, dit is bykans onsigbaar.

Op die keper beskou, verdien die Proteas nie regtig om ’n aanspraakmaker te wees nie. Dié span is eenvoudig een met te veel tekortkominge, veral onder die kolwers. Tog het die span Woensdag sy kanse gehad.

In dieselfde boulbeurt dat Williamson buiterand bygekry het, het David Miller ’n bitter moeilike kans verbrou om hom uit te vang.

Colin de Grandhomme (60, 47 b) is in dieselfde beurt ook deur Miller ’n moeilike lewe gegun. Williamson kon boonop uitgehardloop gewees het kort ná sy tweede lewe – én in die voorlaaste boulbeurt uitgevang word deur Lungi Ngidi.

Maar dat die wedstryd so opwindend was, was reeds ’n groot bonus vir die toeskouers nadat Suid-Afrika geploeter het tot ’n telling van 241/6 in hul toegelate 49 beurte. Die kolwers het gesukkel om hul voet op die versneller te plaas.

Rassie van der Dussen vier sy vyftigtal. Foto: Getty Images

Rassie van der Dussen (67*, 64 balle) was bobaas in die Proteas se beurt, terwyl Hashim Amla se beurt van 55 die Proteas onder druk geplaas het omdat dit 83 balle in beslag geneem het.

Niemand het Suid-Afrika ’n kans gegun om dié beskeie telling te verdedig nie.

Maar toe krieketgode in die 15de boulbeurt vanuit die niet ’n speek in die Kiwi’s se wil steek, het ’n opwinding onder die toeskouers begin groei. Die aanvangskolwer Martin Guptill (35, 59 b), wat saam met sy kaptein tot 72/1 gevorder het, het op sy eie paaltjie getrap.

Ross Taylor het in die 16de beurt ’n Chris Morris-aflewering aan die bykant geraak en is op ongelukkige wyse uitgevang.

Toe die Kiwi’s op 80/4 steier ná 18 boulbeurte, het die Suid-Afrikaners in Birmingham begin glo.

Daar was ’n geloof dat die Proteas hul WB-voodoo teen die Kiwi’s kán verbreek en die Nieu-Seelanders die eerste keer in vyf probeerslae op dié verhoog klop. Dít 20 jaar ná hul laaste WB-sege oor die Swartpette, op dieselfde veld...

Toe Jimmy Neesham ook uit is en Nieu-Seeland steier op 137/5, het daardie geloof begin groei. Die spanning in die stadion was tasbaar. Die skare het elke bal gevóél – elke puik stukkie veldwerk is toegejuig, elke leë aflewering gevier.

Williamson was ’n rots. In De Grandhomme het hy ’n vennoot gevind wat die druk van hom verlig het.

In Pehlukwayo (1/73 in 8.3 bbe.), wat tot dusver briljant in die toernooi was, het hulle ’n sagte teiken gevind.

In die doodsnikbeurte het die wiele begin afkom. Foutballe is geboul, vangkanse is verbrou ... Dit het amper herinner aan 2015 se halfeindstryd tussen dieselfde spanne.

In die doodsnikbeurte het die wiele begin afkom. Foutballe is geboul, vangkanse is verbrou ... Dit het amper herinner aan 2015 se halfeindstryd tussen dieselfde spanne.

Die wedstryd was tot die einde steeds in die weegskaal, maar die Kiwi’s is waardige wenners.

Suid-Afrika se gebreke met die kolf is blootgelê, ook deur goeie Kiwi-boulwerk. Maar die Proteas het ook gewys hulle sal veg tot die bitter einde. Die misnoeë op Morris (3/49 in 10 bbe.) se gesig toe hy van die veld gestap het, vertel die hartseer verhaal.

Hulle het hul deel gedoen om die skare tot ’n senutergende skouspel te trakteer. Maar vir ’n kans op daardie ontwykende trofee, sal hulle ’n verdere vier jaar moet wag.