Laai af: Indië se Wêreldbekergroep in PDF-formaat

Virat Kohli is tans die beste krieketspeler op aarde. Die span met die beste speler in sy geledere, sal áltyd ’n titel-aanspraakmaker by enige toernooi wees.

Die feit dat Indië as een van die twee grootste gunstelinge vir die Wêreldbeker-toernooi gesien word, is grootliks (maar nie alleenlik nie) vanweë die teenwoordigheid van die middelorde-rots en jaagtog-koning Kohli.

Sedert die laaste Wêreldbeker-toernooi vier jaar gelede in Australië geëindig het, het geen speler in die wêreld naby aan Kohli se lopie-oes gekom nie. In dié tydperk het die Indiese kaptein ’n reusagtige 4 306 lopies in 69 wedstryde opgestapel. Dit sluit in 19 honderdtalle en 16 vyftigtalle.

Hy het hierdie lopies teen ’n gemiddeld van 78.29 en ’n treftempo van 98.33 aangeteken. Dit is syfers wat enige gesprekke oor wie die beste kolwer in die wêreld is, eenvoudig nietig verklaar. Daar ís geen argument nie – Kohli het eenvoudig nie sy gelyke nie.

Sy vermoë om ’n lopiejaagtog perfek te bereken, is ’n wapen wat geen ander span in sy arsenaal het nie. Sy loopbaan-gemiddelde in die tweede beurt van ’n wedstryd is 68.21.

Virat Kohli, Indië se kaptein, is die beste krieketspeler op die planeet. Foto: Getty Images

Vir Indiërs is krieket ’n geloof. Kohli is hul “god”.

Dié sentiment oor die Indiese kaptein eggo egter nie oor die hele wêreld heen nie. In veral Australië en Engeland word hy as ’n arrogante kaartmannetjie gesien, ’n aggressiewe opstoker wie se humeur heeltemal te maklik opvlam.

Die feit dat hy ’n potensiële toernooiwenner is, staan egter soos ’n paal bo water.

Dit is egter nie nét Kohli wat die Proteas sal moet dophou wanneer die spanne op 5 Junie op die Rose Bowl in Southampton kragte meet nie.

Rohit Sharma het naas Kohli die meeste lopies sedert die vorige Wêreldbeker-toernooi opgestapel. In 71 beurte het hy 3 790 lopies teen ’n gemiddeld van 61.12 en ’n treftempo van 95.29 aangeteken. Dit sluit 15 honderdtalle en 16 vyftigtalle in.

Dan is die strydros-paaltjiewagter MS Dhoni ook nog daar. Hy was die kaptein toe Indië in 2011 die toernooi vir die eerste keer sedert 1983 gewen het en sy kennis en kragkolf teen die einde van ’n wedstryd kan van onskatbare waarde wees.

Indië het boonop ’n magdom draaiers van wêreldgehalte in Kuldeep Yadav, Yuzvendra Chahal en Ravindra Jadeja.

Dit is egter die toetrede tot die groot verhoog van die snelbouler Jasprit Bumrah wat Indiese ondersteuners gaande het. Bumrah is besig om alle stereotipes van Indiese snelboulwerk verkeerd te bewys.

Hy het vaart en vernuf, maar dit is sy vermoë om die bal te swaai en veral om streepballe met chirurgiese akkuraatheid te plant, wat van hom só ’n gevaarlike wapen maak.

Indië se veldtog begin teen die Proteas, terwyl Suid-Afrika teen daardie tyd reeds twee wedstryde agter die blad gaan hê.

Die Proteas het wel ’n gunstige vertoningslys by die Rose Bowl. Hulle het twee van die drie eendagwedstryde gewen wat hulle al daar gespeel het.

Dit is nie veel nie, maar teen Kohli en kie sal Faf du Plessis-hulle enige moontlike voordeel benut.

  • Tinus van Staden, wat die Wêreldbeker-toernooi vir Netwerk24 en sy susterpublikasies gaan dek, sal in die komende dae al Suid-Afrika se teenstanders onder die loep neem. Hou Netwerk dop vir nog Wêreldbekergroepe.

Indien jy dit gemis het:

Afganistan se Wêreldbekergroep in PDF

Australië se Wêreldbekergroep in PDF

Bangladesj se Wêreldbekergroep in PDF

Engeland se Wêreldbekergroep in PDF