Transformeer sport gerus op voetsoolvlak. Maar bo dit móét spelers op meriete gekies word.

Dié mening is deur die Protea-snelbouler Kagiso Rabada uitgespreek in ’n onderhoud met Cric­info se The Cricket Monthly, waarin hy gevra is oor die transformasiereëls wat binne Suid-Afrikaanse sport geld. Dié onderhoud is die afgelope week in die tydskrif gepubliseer.

Krieket Suid-Afrika se transformasiebeleid vereis dat die nasionale span oor alle formate en oor die loop van ’n seisoen gemiddeld uit 55% spelers van kleur bestaan.

Dié teiken word wel nie by die Wêreldbeker afgedwing nie.

“Op beroepsvlak moet spelers op meriete gekies word,” het Rabada aan Cricinfo gesê.

“Vir my gaan transformasie daaroor om iemand ’n geleentheid te gee. Ek glo mense moet soveel kanse as moontlik kry. Transformasie moet op voetsoolvlak plaasvind.

“Ek glo in geleenthede. Jy moet iemand ’n kans gee (om homself te bewys), maar daarna moet spelers regverdig gekies word. Hier’s wat ek doen: Ek is besig om ’n stigting op die been te bring, die Kagiso Rabada-stigting. Die doel daarvan is om geleenthede te skep.

“In die verlede was die stelsel onregverdig. Nou moet dit regverdig wees, want net omdat jy swart is, moet daar nie vir jou kanse op ’n skinkbord gegee word nie.”

Rabada het self as jongeling die perfekte geleentheid gehad om in ’n uitmuntende krieketspeler te ontwikkel, as ’n leerling aan die gesiene St Stithians Col­lege in Johannesburg.

Ek probeer om nie polities betrokke te raak nie, al weet ek daar is mense wat so na my kyk, veral swart kinders en mense.

Soos hy het sy opwindende tydgenoot Lungi Ngidi (Hilton College) ook aan ’n privaat skool ontwikkel, terwyl Andile Phehlukwayo (soos Rabada ’n lid van die o.19-span wat die Wêreldbeker in 2014 gewen het) in die Glenwood High School was.

Sogenaamde townshipskole het nog nie internasionale sterre opgelewer nie. Vir kinders daar is spelers soos Rabada en Ngidi bakens van hoop – maar soos Rabada self te kenne gee, moet hulle dit nie wees in die transformasie-gesprek nie.

“Jy word beskou as ’n baken van hoop wat transformasie betref. Mense probeer transformasie goedpraat deur spelers soos ek en Lungi te gebruik,” sê hy.

“Natuurlik gaan dit gebeur dat jy as voorbeeld van transformasie beskou word as jy in die span inkom en goed vaar.

“Ek probeer om nie polities betrokke te raak nie, al weet ek daar is mense wat so na my kyk, veral swart kinders en mense. Ek weet dit. Dis baie duidelik. Maar ek weet ook daar is wit mense wat dieselfde voel.”

Op ’n vraag of hy druk voel om te presteer omdat hy vir die transformasie-voorstanders ’n blink lig is, het Rabada gesê: “Nee, ek is net ’n kind.

“Ek het begin krieket speel omdat ek hou van sport en goed gevaar het.

“Al wat ek van daar af wou doen, was om te verbeter en hopelik eendag my land te verteenwoordig. En toe kom daar nuwe ambisies, soos om die beste te wees.

“Dis hoekom ek nou speel. Soos jy ouer word besef jy jy is ’n inspirasie vir ander. Ek doen my bes om terug te gee.”