As Aiden Markram ’n Protea-keurder was, sou hy hom uit die span gelaat het om plek te maak vir die ervare Hashim Amla.

Hashim Amla Donderdag by die Proteas se oefening by die hoëprestasiesentrum in Pretoria. Foto: Gallo Images

Markram en Amla is albei in die groep vir die Wêreldbeker-toernooi, wat op 30 Mei met ’n kragmeting tussen Suid-Afrika en Engeland op die Oval in Londen begin.

Die groot vraagteken wat oor die samestelling van die kolflys hang, is wie tussen Markram en Amla die kolfbeurt saam met Quinton de Kock moet begin.

“As daar ’n plek oop is, is dit waarskynlik as aanvangskolwer saam met Quinny,” sê Markram.

“Ek dink steeds jy moet dan vir Hash kies, met al sy ervaring. Hy is ’n ou met ’n gemiddelde van (49.74) in eendagkrieket. Ek sal met hom gaan, veral in ’n Wêreldbeker-toernooi, met baie druk.

“Hy is ’n leier in die span en ek begin nou maar eers met my loopbaan.”

Markram is egter die kolwer wie se spelpeil beter is. Hy het onlangs geskitter vir Hampshire in die Engelse Royal London-eendagreeks, waar hy drie vyftigtalle en ’n honderdtal in agt wedstryde geslaan het. Hy ken ook die toestande in Engeland en verwag groot tellings gaan die norm by die WB wees.

“Die blaaie is baie goed vir kolwers. Sodra jy jouself ingegrawe het, raak dit baie makliker om lopies aan te teken,” sê hy.

“Vir die span wat boul, raak dit dan moeilik om die lopievloei te beperk as daar twee kolwers is wat hulself ingespeel het.

“Ek dink die blaaie gaan baie goed wees.”

Aiden Markram sê Hashim Amla is die beste kandidaat om die Proteas se kolfbeurt saam met Quinton de Kock te begin. Foto: Gallo Images

Suid-Afrika se plan is om teenstanders se kolflyste met sy vyfster-boulaaval keelaf te sny. Maar nou moet Kagiso Rabada, Dale Steyn en Lungi Ngidi op blaaie so mak soos ’n huiskat boul. Dít is geen rede tot kommer nie, beloof Markram.

“Dit is steeds ’n positiewe om só ’n boulaanval te hê. Ondanks die blaaie, moet jy deesdae ’n boulaanval hê wat paaltjies regdeur die beurt kan plattrek. Dít het ons.

“Ons beskik oor alles – vaart aan die begin, boulers (soos Andile Phehlukwayo) wat afwisseling in die middelbeurte bied, ’n goeie draaier (Imran Tahir)... Dit is waarna ek die meeste uitsien.

“Ons het ’n aanval wat moeilikheid kan veroorsaak.”

Markram is die enigste Suid-Afrikaanse kaptein wat al ’n Wêreldbeker-toernooi kon wen. Hy het die Suid-Afrikaanse o.19-span in 2014 tot WB-glorie aangevoer. Rabada was ook deel van daardie span.

“Ons sal sekere goed kan benut wat ons daar geleer het. Hierdie is egter op ’n baie groter skaal.”