Gary Stead, afrigter van Nieu-Seeland se krieketspan, sê dis nutteloos om te debatteer of ’n skeidsregtersblaps hulle in die Wêreldbeker-eindstryd benadeel het, “want die uitslag kan nie verander word nie”.

Die voorval waarna hy verwys het was toe die Engelse kolwer Ben Stokes die bal na diepmiddebaan gespeel en laat spaander het vir twee lopies.

Hy moes duik om die tweede lopie te voltooi en die ingooi van Martin Guptill het op wonderbaarlike wyse sy kolf getref en vir vier lopies gerol. Die uiteinde was dat ses lopies toegeken is – die twee wat gehardloop is en die vier “oorgooi-lopies”.

Die voormalige skeidsregter Simon Taufel het egter gesê daardie stukkie spel moes net vyf lopies werd gewees het, omdat die kolwers nie gekruis het vir die tweede lopie toe die bal ingegooi is nie. Ingevolge die spel se reëls sal die tweede lopie wat gehardloop is, slegs tel as die kolwers reeds gekruis het.

Gegewe die feit dat die wedstryd uiteindelik gelykop geëindig het, kan daar geargumenteer word dat Kumar Dharmasena en Marais Erasmus die Nieu-Seelanders ’n groot onreg aangedoen het.

Stead is egter simpatiek teenoor die witjasse en sê hulle is net menslik. “Soos spelers maak hulle ook partykeer foute,” het Stead aan die Nieu-Seelandse media gesê.

Terwyl daar hewig debat gevoer word oor die skeidsregtersblaps wat Nieu-Seeland moontlik duur te staan gekom het in die Wêreldbeker-eindstryd, is die Kiwi’s se afrigter, Gary Stead, filosofies oor die kwessie. Foto: Getty Images

’n Voormalige Kiwi-afrigter, Mike Hesson, was egter minder diplomaties en het die Internasionale Krieketraad (IKR) geloop oor sy besluit dat eers ’n super-boulbeurt en toe die aantal grenshoue aangeteken gebruik is om die wenner van die eindstryd te bepaal.

“Om die wenner met ’n super-boulbeurt te wou bepaal, was ’n klug en die IKR behoort homself ’n opstopper te gee dat hy dit in die eerste plek toegelaat het,” het hy in ’n rubriek vir Fairfax Media geskryf.

Stead glo die IKR sal ’n behoorlike hersieningsproses doen oor hoe soortgelyke situasies in die toekoms hanteer moet word.

“Ek is seker toe hulle aanvanklik dié reëls opgestel het, het hulle nooit verwag dat ’n eindstryd só sou eindig nie.

“Dis ’n baie hol gevoel as jy ’n 100 boulbeurte speel, dieselfde hoeveelheid lopies as jou teenstander aanteken en steeds die wedstryd verloor,” het Stead gesê.

– Reuters