Nieu-Seeland se spannende oorwinning oor Indië in die halfeindronde van die Wêreldbeker-toernooi, wat as die “Miracle in Manchester” gedoop is, is een van dié land se beste vertonings tot nog toe in ’n eendag-krieketwedstryd.

Só het die oud-Kiwikaptein Daniel Vettori gesê nadat Kane Wiliamson se span vriend en vyand verras het deur Indië Woensdag op Old Trafford met 18 lopies te klop.

Vettori, wat Nieu-Seeland in 2011 tot in die WB-halfeindronde gelei het, het veral lof gehad vir die Swartpette se aanvangsboulers, Trent Boult en Matt Henry. Dié duo het Indië se topdrie-kolwers elk vir net een lopie uitgehaal en die toernooi-gunsteling op 5/3 laat steier.

“Om só goed te boul in ’n drukbelaaide halfeindstryd maak dié vertoning een van die bestes in Nieu-Seeland se geskiedenis,” het Vettori in sy rubriek vir die Internasionale Krieketraad geskryf.

“Wanneer jy in ’n halfeind speel, is daar soveel bykomende druk. As jy in só ’n situasie steeds briljant kan boul, sê dit baie van jou vertoning,” sê Vettori.

Henry en Boult het saam vyf paaltjies in die wedstryd laat kantel, terwyl die draaier Mitchell Santner ook twee platgetrek het.

Nieu-Seeland speel Sondag op Lord’s in sy tweede agtereenvolgende WB-eindstryd. – Reuters