Nieu-Seeland beskik oor die vermoë om Indië te klop wanneer dié twee spanne Dinsdag in die halfeindstryd van die Wêreldbeker-kriekettoernooi slaags raak, sê Daniel Vettori, ’n voormalige kaptein van die Swart Pette.

Nadat die Kiwi’s die toernooi op ’n drafstap begin het, het hulle in die laaste paar wedstryde effens stoom verloor en hul laaste drie wedstryde op ’n streep verloor.

En hoewel die Nieu-Seelanders kwalik as die gunsteling Dinsdag in Manchester sal aantree, sê Vettori enigiets is moontlik.

“Die gedagte van drie nederlae kan so vinnig soos mis voor die son verdwyn, indien hulle ’n goeie begin in die eerste 10 boulbeurte kan maak. Indien Nieu-Seeland goed kan begin, hetsy dit met die kolf of die bal is, sal die loesings maklik vergeet word.”

Vettori sê die aanvangskolwer Martin Guptill, wat slegs 166 lopies in sy afgelope agt kolfbeurte kon aanteken, sal ’n belangrike rol speel.

“Hy het dit in die verlede soveel keer gedoen, en omdat ek hom goed ken, weet ek hy kan dinge omdraai en baie vinnig sal dit ’n ander storie word.

“Moenie vergeet dat hy die toernooi eintlik baie goed begin het met ’n vyftigtal teen Sri Lanka nie. Dit beteken dat hy nie te ver hoef te gaan soek vir bewyse waartoe hy op hierdie vlak in staat is nie,” sê Vettori.

Dié voormalige draaibalbouler wat Nieu-Seeland in 295 eendagwedstryde tussen 1997 en 2015 verteenwoordig het, sê die res van die Kiwi’s se kolforde moet Engeland se taktiek gebruik toe die Engelse Indië vroeër in die toernooi geklop het.

Eoin Morgan en sy troepe het die basies onspeelbare snelbouler Jasprit Bumrah oorleef, voordat hulle die res van die Indiese boulers geteiken en aangeval het.

“Nieu-Seeland beskik oor al die vaardighede om ’n groot totaal daar te stel. Die Swart Pette het ’n plan om goed te kolf, dit gaan net daaroor dat al die dinge op die regte tyd moet gebeur,” sê Vettori.

Tog sal dit ook belangrik wees vir die Kiwi’s om in die eerste 10 beurte met die bal hul gesag te laat geld. Dit ten spyte van die feit dat Indië meesters daarin is om hul kolfstyl by die toestande aan te pas.

“Hulle gaan van die begin af aggressief moet wees en moet boul om paaltjies te neem en by die Indiërs se middelorde uit te kom. Indien hulle dit kan regkry, sal hulle ’n kans staan.

“Trent Boult (snelbouler) sal ’n belangrike rol speel, aangesien hy die Indiese kolwers teen hierdie tyd baie goed ken. Trent moet toegelaat word om sy ding aan die begin, in die middel en teen die einde van die Indiese kolfbeurt te doen,” sê Vettori. – Reuters