Virat Kohli, kaptein van Indië se krieketspan, het gefrustreerde aanhangers gemaan om hul emosies te beteuel in die nadraai van ’n skoknederlaag teen Nieu-Seeland in Woensdag se Wêreldbekerhalfeindstryd.

Kohli se span is met 18 lopies op Old Trafford geklop. Die Indiërs se lopiejaagtog het vroeg gesneuwel toe sy topvier-kolwers binne die eerste 10 boulbeurte vir 24 uit is.

Indiese krieketaanhangers is alom bekend vir hul passievolle uitbarstings ná afloop van nederlae, maar Kohli sê dit is deel van sport en moet nie ekstreme reaksies by ondersteuners of spelers uitlok nie.

“Dit is maklik om van buite af kritiek te lewer. Ek was nog altyd ten gunste van kalm reaksies en ja nederlae maak seer, maar dit moet nie tot die ekstreem geneem word nie,” sê hy.

Volgens Kohli sal daar diep gedelf word om vas te stel wat fout gegaan het.

“Ek gaan nie nou te veel uitwei nie, ons sal later ontleed wat ons verkeerd gedoen het,” sê hy.

“Ons ontken nie dat die uitdaging ons onder gekry het nie. Ons was nie goed genoeg onder druk nie.”

In ’n berig in India Today word Kohli as ’n “choker” beskryf wat reeds in drie Wêreldbekeruitspeelwedstryde onder druk gevou het.

Behalwe vir Woensdag se flou poging is hy in 2011 in Indië se halfeindstryd teen Pakistan vir nege uitgehaal, terwyl hy vier jaar later in die halfeindstryd teen die Aussies net een lopie kon aanteken.

Hy het op al drie geleenthede sy paaltjie teen linkerhandse-snelboulers verloor.

– Sportredaksie