Thabang Moroe, Krieket Suid-Afrika (KSA) se uitvoerende hoof, het ’n beroep op Suid-Afrikaanse krieketspelers gedoen om geestelik taaier te word om sodoende beter onder druk te vertoon.

Moroe het sy stilswye oor die Proteas se gesukkel in die Wêreldbeker-toernooi op ’n minikrieket-seminaar in George verbreek.

“Dit was frustrerend om die lyftaal van die span te aanskou en hoe ons van die eenvoudigste dinge verkeerd gekry het, maar ons sal net beter maniere moet vind om druk te hanteer,” het Moroe luidens ’n berig op Sport24 gesê.

Hy het sy teleurstelling uitgespreek nadat die span slegs twee van hul agt wedstryde tot dusver kon wen.

“Ek sou nie patrioties wees as ek nie teleurgesteld was nie. Ons is teleurgesteld, ons het vir baie beter uitslae gehoop, maar dinge het nie so uitgewerk nie.

“Die ouens het so hard as moontlik probeer om goeie vertonings te lewer.”

Hy het ’n beroep op die spelers gedoen om “taaier” te word.

“Ek dink dit is iets sistemies en nie noodwendig ’n sielkundige ding vir krieketspelers nie. Ek dink ons moet een of twee dinge in ons stelsel verander om te verseker ons kweek krieketspelers wat geestelik taai is.

Ek dink ons moet een of twee dinge in ons stelsel verander om te verseker ons kweek krieketspelers wat geestelik taai is.
Thabang Moroe

“Ons het individue wat kies om liewer ’n Kolpak-kontrak te aanvaar as hulle nie gekies word nie. Dít, liewer as om hulself nog een seisoen te gee en die lopies of paaltjies te kry wat die keurders of die afrigter vereis.

“As jy na ’n span soos Australië kyk . . . ná die sage waardeer hulle in Kaapstad is . . . Die span was platgeslaan vir ’n paar maande, maar as jy vandag na hulle kyk, lyk dit nie na dieselfde span nie, want geestelik is Australiërs taai.

“Jy sien hoe word David Warner en Steve Smith uitgejou as hulle uitstap om te gaan kolf, elke liewe dag, maar hulle steek hul hande op en sê: ‘Ons gee nie om nie’.”

Moroe kon nie sê presies watter aksie ná die toernooi geneem sal word nie, maar het gesê dat hulle deur verskeie verslae sal werk, insluitend verslae van die Protea-spanbestuur en KSA se raad.

Ottis Gibson, die Protea-afrigter. Foto: Gallo Images

Chris Nenzani, KSA se president, het vroeër ook aan TimesLive gesê daar sal koppe rol ná die Proteas se WB-misoes.

Ottis Gibson, die breier, se kontrak verstryk aan die einde van September. Die hulpafrigters Malibongwe Maketa en Justin Ontong is ook slegs tot dan gekontrakteer.

Die kolfafrigter, Dale Benkenstein, is net tot Julie op KSA se boeke.

Die spandokter, Mohammed Moosajee, en die hoofkeurder, Linda Zondi, se termyne kom ook ná die WB tot ’n einde. – Sportredaksie

* Oorspronklike berig