Nieu-Seeland se sege Woensdag in die laaste boulbeurt van sy Wêreldbeker-wedstryd op Edgbaston teen Suid-Afrika was vir hom ’n bittersoet ervaring, sê Kruger van Wyk, wat ’n krieketvoet in albei lande het.

Hierdie eertydse paaltjiewagter van Noord-Transvaal en die Titans het nege toetse vir die Swartpette gespeel nadat hy sy krieketwortels hier plaaslik uitgetrek het en dit in Nieu-Seeland gaan plant het.

“Ek was eintlik in twee geskeur, want ek wil die beste vir albei lande hê. Ek is nog deel van die Swartpette, maar is nou terug in Suid-Afrika en rig hier af (by Tuks) en wil graag sien dat die spel hier gesond is.

Kruger van Wyk saam met Mangaliso Mosehle by Krieket Suid-Afrika se hoëprestasiesentrum in Pretoria. Foto: Gallo Images

“Dit is egter baie teleurstellend om te sien hoe Suid-Afrika in die Wêreldbeker vertoon. Dit is net asof hulle geen intensiteit het nie. Daar word vertel hoe die spelers aangemoedig word om hulself uit te leef op die veld en aggressief te wees, maar ek sien niks daarvan nie.

“Ná ’n teleurstellende Wêreldbeker-toernooi is daar altyd nagevolge en ek glo dit gaan beslis die geval met Suid-Afrika wees. Daar sal wel koppe rol en drastiese stappe sal gedoen word. Dit is maar altyd hoe dit werk as jy met leë hande van ’n Wêreldbeker af huis toe keer,” sê Van Wyk.

Hy het die onoorwonne 106 lopies van Kane Williamson, die Kiwi-kaptein, in die sege oor Suid-Afrika beskryf as die “beste kolfbeurt in vanjaar se toernooi.

“Dit was in baie moeilike kolftoestande en jy kon sommer al vroeg in sy beurt sy frustrasie sien oor die gesukkel wat dit was om op daardie blad te kolf,” sê Van Wyk van sy eertydse Nieu-Seelandse spanmaat.

Daar is geen ego by hom nie en roem en status maak nie vir hom saak nie. Hy wil net in belang van die span speel.
Kruger van Wyk

“Kane het al die druk op sy skouers gevat en hy is iemand wat die spel om die regte redes speel. Daar is geen ego by hom nie en roem en status maak nie vir hom saak nie. Hy wil net in belang van die span speel.

“Geestelik is hy baie sterk en ek beskryf hom as ’n stille kryger.

“Hy is heel gemaklik met wie hy is en speel nie om ’n identiteit te skep nie. Hy is nie iemand wat soos iemand anders wil wees nie en daarom pla dit hom nie dat hy onder die radar beweeg en nie die erkenning en status van ’n Virat Kohli of Eion Morgan as kaptein het nie,” sê Van Wyk.

As iemand wat ook die pampoen-handskoene gedra het as paaltjiewagter, het hy sy mening gegee oor die bisar voorval toe Williamson met sy telling op 76 die randjie van die kolf bygekry het en Quinton de Kock die bal gevang het, maar daar nie geappelleer is nie.

“Gewoonlik is Quinton baie goed met die verwysings in so ’n geval, maar dit kan wees dat met die geraas het hy nie die kontak van die bal op die kolf gehoor nie.

Imran Tahir of South Africa
Imran Tahir. Foto: Getty Images

“Tog het jy die idee gekry hulle (hy en die bouler Imran Tahir) het dalk gewonder of daar nie iets was nie. Hulle moes dit verwys het, want dit sou ’n deurslaggewende oomblik gewees het om Kane se paaltjie te kry.”

Nog ’n eertydse paaltjiewagter, Ray Jennings, glo De Kock moet die verantwoordelikheid aanvaar dat daar nie ’n appèl was nie.

“Die probleem is dat Tahir omtrent alles wil verwys en sou die kaptein nie juis waarde geheg het aan wat hy sou sê nie. De Kock moes die leiding daar neem en aandring op ’n verwysing, maar hy was heeltemal té twyfelagtig. Sulke dinge gebeur in die hitte van die oomblik,” sê Jennings.

* Die oud-Proteadraaier Paul Adams het op Twitter oor Williamson se randjie getwiet: