In 2018 het Linda Zondi, Krieket Suid-Afrika (KSA) se hoofkeurder, “by AB de Villiers gepleit om nie uit te tree nie”.

De Villiers het egter gesê hy het vrede met sy besluit, so toe Zondi die dag van die Wêreldbeker-spanaankondiging hoor dat dié voormalige Protea-kaptein skielik ’n U-draai gemaak het, was hy geskok.

ESPNcricinfo het Donderdagoggend die nuus gebreek dat De Villiers aangebied het om vir die Proteas by die WB-toernooi te speel. KSA het egter geweier.

“Toe Faf du Plessis en Ottis Gibson ons meegedeel het dat AB by die groep ingesluit wil word, was dit ’n groot skok vir ons almal,” sê Zondi in ’n verklaring.

“AB het ’n groot leemte gelaat toe hy uitgetree het. Ons het ’n jaar gehad om spelers op franchisevlak te vind om die gaping te vul.

“Ons het spelers gehad wat hard gewerk het, hul hand opgesteek het en ’n kans verdien het om Wêreldbeker toe te gaan.

“Die besluit is op ’n beginsel gegrond. Ons moes regverdig optree teenoor die span, die keurpaneel en ons franchise-stelsel en -spelers.”

As De Villiers gekies sou word, sou dit waarskynlik beteken dat Rassie van der Dussen uitgelaat word. Van der Dussen het sy kans met albei hande aangegryp nadat hy sy eendagbuiging in Januarie gemaak het.

Linda Zondi/Foto: Gallo Images

Zondi sê al was daar ’n siening dat De Villiers gekies en keur het wanneer hy wou speel, het KSA steeds aangebied dat sy speelskedule “beplan en monitor word” om hom vars te hou vir die WB, toe hy sy planne om uit te tree in Mei 2018 met hulle gedeel het.

“Ons het dit duidelik gestel dat hy in die tuisreekse teen Sri Lanka en Pakistan sou moes speel om in aanmerking te kom om gekies te word, maar hy het besluit om liewer in die Pakistanse en Bangladesjiese Premierliga te speel.

“Hy het die aanbod van die hand gewys en gesê hy het vrede met sy besluit om uit te tree.

“In geen stadium in die jaar wat hy uitgetree was, het hy homself beskikbaar gestel om gekies te word nie. Dit was nie ’n opsie om hom in te sluit toe ek die nuus op die dag van die groep se aankondiging ontvang het nie.

“AB is ongetwyfeld een van die beste spelers in die wêreld, maar bo en behalwe dit, moes ons getrou bly aan ons beginsels en morele waardes. Daar is geen spyt oor ons besluit nie.”

ESPNcricinfo het die storie gebreek in die nadraai van die Proteas se derde agtereenvolgende nederlaag in die WB-toernooi, Woensdag in Southampton teen Indië.