Virat Kohli het Indië Dinsdag na ’n plek in die Wêreldbeker-halfeindronde gelei en hom dadelik by ’n 87-jarige aanhanger aangesluit om dit te vier.

Charulata Patel (87) was in haar noppies toe die spelers die veld verlaat en Kohli, asook die Speler van die Wedstryd, Rohit Sharma, haar nader.

Sy het hulle sterkte toegewens en ’n hele paar drukkies is uitgedeel.

Patel se entoesiastiese ondersteuning vir haar span in die paviljoene het die internet reeds vroeër in die toernooi aan die gons gehad.

Sy is gebore 43 jaar voor die eerste Wêreldbekertoernooi, maar haar ouderdom keer haar nie om haar span met ’n vuvuzela op die lippe in Engeland aan te spoor nie.

– Sportredaksie