Australië se krieketspelers en spanbestuur het ’n kaalvoet-spanbousessie gehad op die veld waar hulle Engeland Donderdag in die tweede halfeindstryd van die Wêreldbeker-toernooi pak.

Nadat die Aussies deur ’n rits beserings en ’n onverwagse nederlaag met 10 lopies teen Suid-Afrika geskud is, het Justin Langer, hul afrigter en ’n selferkende “hippie”, sy spelers Maandag by ’n oefening op Edgbaston in Birmingham aangesê om hul sokkies uit te trek.

Die kaalvoet-spelers en lede van hul afrigtingspan het toe een keer om die veld gestap en daarna in ’n kring gaan sit. Elkeen het toe kans gekry om oor die span se vertonings tot dusver te praat en wat dit sou beteken om die Wêreldbeker Sondag op Lord’s omhoog te hou.

“Dit was net ’n oomblik waar ons ’n gevoel vir die veld (een waar Australië oor die jare nie baie sukses behaal het nie) te kry,” sê Peter Handscombe, wat die beseerde Shaun Marsh in die groep vervang het.

“Dit was lekker. Jy het gras onder jou voete gevoel en gevoel hoe positiewe en negatiewe energie uit die aarde vloei,” sê Handscombe.

Australië het in 1993 laas ’n eendagwedstryd op Edgbaston gewen en in toetskrieket laas in 2001.

Dié veld het wel ’n spesiale plek in Australiese harte, want dis daar waar Steve Waugh se span in 1999 in die epiese gelykop-halfeindstryd teen die Proteas in aksie was. Daardie uitslag was uiteindelik goed genoeg vir die Aussies om die eindstryd te haal. Hulle het toe voortgegaan om die wêreldkampioene te word nadat hulle met Pakistan afgereken het.

Daar is intussen ’n moontlikheid dat die veelsydige speler Marcus Stoinis nog in die halfeindstryd kan speel. Hy het ’n sybesering opgedoen en Mitchell Marsh is ontbied om hom te vervang, sou hy nie kon speel nie. Hy sal later ’n fiksheidstoets ondergaan.

Sou Marsh wel speel, sal dit sy eerste eendagwedstryd sedert Januarie 2018 wees.

– Reuters